Hulle is ’n allemintige 40 jaar oud en die Pre-primêre Skool La Rochelle vier dit met ’n verskeidenheid aktiwiteite vir kleuters en ouers.
Die skool, wat in Oak Glen geleë is, is amptelik op 14 April 1982 geopen.
Die kinders het verlede week met groot opwinding die syfer 40 met hul lywe gevorm. Hulle het ook koekies versier en gedans.
Die skool het heelwat kleiner begin en een aand, meer as 40 jaar gelede, het 68 ouers bymekaar gekom om die groot behoefte aan ’n plaaslike kleuterskool te bespreek.
Angelique van Niekerk, wat destyds hoof van die Pre-primêre Skool Eversdal was, en die destydse hoof van die Pre-Primêr Skool Kuilsrivier, het raad gegee en ook gehelp om die relevante staatsdepartement te kontak.
Die skool is eers in die Hervormde Kerk gehuisves, terwyl die skool gebou is. Elke kleuter het nog sy eie stoel die kerk in gedra.
Op 4 September 1982 is die skool amptelik ingewy deur die oudburgemeester Willie van Schoor, wat ook die gasspreker was.
Tans bestaan die skool uit ses klasse vir kleuters tussen twee en ses jaar oud. Daar is tans 110 kleuters wat in Engels óf Afrikaans skoolgaan.
Oor naweke word die perseel as partytjielokaal uitverhuur.
Die skool hou vanjaar ’n reeks geleenthede om die bestaansjaar te vier, sê Elana Kuyler, wat vir die skool werk.
“Ons nooi graag oudleerders, ouers en personeel uit om deel te raak van die jaar se groot makietie.
“Dit sal baie lekker wees om ou bande te hervat en 40 jaar se sukses – waaraan almal ’n aandeel het – te vier.”
Die volgende byeenkomste gaan nog vanjaar plaasvind:
- Veilingsaand en dans op 28 Mei van 18:00 tot 23:00. R100 per persoon. Altesaam 10 mense kan om ’n tafel sit. Bring jou eie eet- en drinkgoed vir die aand.
Kinderversorging is ook die aand beskikbaar.
Kontak Elana by 061 060 5566 om betrokke te raak.
- Opedag op 3 September van 09:00 tot 11:00. Voornemende ouers is welkom om die dag by te woon.
- La Rochelle-karnaval op 26 November.
“Dit sal vir ons baie lekker wees om al die nuwe gesiggies dan te kan ontmoet,” sê Kuyler.
Gaan volg die skool op Facebook en Instagram vir nog gebeure by die skool.
Skakel die kantoor by 021 919 4506 vir meer inligting.


