Die skoolgemeenskap van die Hoërskool Kleinvlei stap steeds breëbors rond nadat die skool se 2024-matrikulante ’n slaagsyfer van 90% behaal het.
In 2023 was die slaagsyfer 65% en die groot sprong in die persentasie is volgens Teresa Jones, skoolhoof, te danke aan harde werk en innoverende planne. “Die leerders van die skool kom uit moeilike omstandighede en toe ek twee jaar gelede as hoof aangestel is, was die slaagsyfer 51%. Ons moes hard werk om van die ‘Covid-denkrigting’ te verander,” sê sy.
Jones sê toe die vorige hoof afgetree het, was die skool op alle vlakke in chaos.
“Toe die vorige hoof in 2016 afgetree het, het die skool nog ’n slaagsyfer van 82% gehad, maar dit het geleidelik verswak. Baie van die senior personeel het ook afgetree, wat ons baie vaardighede laat verloor het,” sê Jones.
Niks het egter vir haar en haar span ondergekry nie, want hulle het verskeie ingrypings van stapel gestuur om seker te maak die leerders kry die beste kans op sukses.
“Daar was spesiale klasse na ure en oor naweke. Ons het met ons skrapse begroting seker gemaak die leerders kry iets om te eet en hulle het vervoer om huis toe te gaan. Ek het ook gereeld met hulle vergader om seker te maak hulle doen hul take en is op datum.
“Samewerking tussen die gemeenskap, die ouers en selfs die polisie het baie verbeter en as skoolgemeenskap kan ons trots wees op wat ons bereik het. Veral in ’n gemeenskap soos Kleinvlei is dit nie ’n geringe taak om ’n slaagsyfer van 90% te behaal nie.
“Hierdie skool kan vandag uitstaan as ’n baken van hoop vir die gemeenskap. Ek is trots op elke leerder en elkeen wat ’n bydrae gelewer het tot die skool se sukses,” sê Jones.


