Geïnspireer deur die passie wat ’n matriekleerder vir weerkunde het, het die Hoërskool Brackenfell vroeër vanjaar ’n weerstasie op die skoolterrein opgerig.
Sy naam is Xander Olivier, wat met sy besonderse passie en talent vir die weer volgende jaar weerkunde aan die Universiteit van Pretoria gaan studeer.
Dis die tweede skool in die land en die eerste skool in die Wes-Kaap met die spesifieke weerstasie.
“Geografie is nie net ’n vak nie, maar wel ’n leefstyl. Xander se passie het my laat besef dat ek my vak meer toeganklik en prakties moes maak om leerders die geleentheid te gee om te sien wat ’n mens met geografie kan gaan doen – nie net vir my klas nie, maar ook vir ’n leerder soos Xander wat ’n toekoms uit geografie wil maak,” sê Jorinda Coetzee, geografie-onderwyser wat die projek in Maart van stapel gestuur het.
“Dit gee ons leerders en die gemeenskap die geleentheid om te kan sien hoe vinnig en onvoorspelbaar weer is, asook hoe afhanklik ons van die weer is. ’n Mens dink nie altyd so daaraan nie, maar kom ek stel dit so: As jy wil braai op ’n dag wat die Bokke speel en skielik begin dit stormrëen? Die eerste ding waaroor jy gaan kwaad raak, is dat daar geen rëen vir die dag voorspel is nie,” sê Coetzee.
Nog ’n belangrike doelwit van die projek is om ’n historiese databank van Brackenfell se weer op te bou, en om inligting te versamel vir klimaat- navorsingsprojekte wat landwyd gehou word.
Die weerstasie wat met sonkrag aangedryf word, meet temperatuur, humiditeit, windrigting en spoed, sowel as reënval en wolkbedekking. Dit dui ook die stres-effek aan wat die weer op die menslike liggaam het.
Brackenfell het byvoorbeeld dié winter 370,4 mm reënval beleef in Julie met ’n minimum temperatuur van 2,48 °C.
“Ons gebruik ook die weerstasie om die gemeenskap in te lig oor meer akkurate weerstoestande in Brackenfell op ons eie WhatsApp-weerkanaal, asook vir die beplanning en voorsiening vir sportdae en om leerders te waarsku as dit te warm raak of die wind te sterk waai,” sê sy.
Klimaat verduidelik
Coetzee gebruik die data in haar daaglikse klasaanbiedings om klimaat aan leerders te verduidelik. Die geografie- leerders het ook toegang tot die weerstasie om self na die data te kyk en dit te ontleed.
Die weerstasie staan twee meter bo ’n grasoppervlakte op die skoolterrein op ’n oop ruimte waar die mees akkurate lesings verkry word.
“Dit tel alles elektronies op en word elke 15 tot 30 minute bygewerk en direk na die weerportaal gestuur, waar die onderwyser en geografie-leerder toegang kan kry via ’n rekenaar of hul fone. Dus kan ek enige plek in die wêreld wees en die data ontvang,” verduidelik sy.
Coetzee sê dit gee die leerders die geleentheid om die werk prakties toe te pas en om meer volhoubare kennis en begrip oor die vak op te doen.
“Ons het ook toegang tot twee ander stasies, Strand en Koekedouw, wat ons kan gebruik om ontleding en vergelyking te doen.”
As die eerste skool in die provinsie met die spesifieke weerstasie, wil Coetzee graag die gemeenskap toegang gee tot die inligting.
“Veral in dié tye waarin ons meer volhoubaar en prakties oor die toekoms van ons omgewing moet dink.”


