Die besproeiing van hul sportvelde in die hitte van die dag was ’n “uitsonderlike” gebeurtenis wat nie weer sal gebeur nie, het die Hoërskool D.F. Malan belowe.
’n Sosiale media-debat het rondom die skool se watergebruik losgebars nadat daar ’n foto geplaas is van sproeiers wat die sportveld nat maak.
Volgens die plasing op Facebook deur Jaco van Zyl het sproeiers van 08:00 tot 11:45 Saterdagoggend 6 Januarie die skool se krieketveld natgelei.
Talle nabye inwoners en ouers het sterk en wydstrekkend gereageer op die foto. Party meen dit is belangrik vir kinders om steeds op gras te kan sport speel. Ander voel dit is onnodig om gras te hê tydens ‘n droogte.
Die oorgrote meerderheid meen egter die sproeiers moet eerder aangesit word wanneer die water nie so gou sal verdamp nie.
Die skoolhoof, Sias Conradie, sê Hoërskool D.F. Malan gebruik ‘n besproeiingskedule wat om 18:00 begin.
“Die besproeiing van die velde verlede Saterdag was uitsonderlik en ons sal toesien dat dit nie weer gebeur nie.”
Die skool ’n geregistreerde boorgat om die sportvelde te kan besproei. “Die water is getoets, maar is in dié stadium nie geskik vir menslike gebruik nie,” sê hy.
Die skoolbeheerliggam ondersoek tans die koste verbonde aan die suiwering van die water.
“Die gesuiwerde water sal dan in die skool gebruik kan word en sodoende die las op die gebruik van munisipale water verlig.”
Conradie sê die skool ondersteun verskeie waterbesparingsinisiatiewe.
“Leerders word deurentyd bewus gemaak van die noodsituasie en word aangemoedig om waterlose handreinigers na die skool te bring om hul hande te ‘was’,” sê hy.
“Leerders bring gryswater van hul huis om bome en plante by die skool nat te maak. Verder word reënwater ge-oes en houers word onder krane geplaas om water op te vang.”