Video screenshot
Skietvoorval Van Riebeeckweg en Annandalestraat, Kuilsrivier

Die skietvoorval wat daartoe gelei het dat ‘n gedeelte van Van Riebeeckweg in Kuilsrivier gisteraand (Woensdag 22 Oktober) afgesper is, is vermoedelik bendeverwant.

Die Kuilsrivier-polisie was om 19:50 op die toneel op die hoek van Van Riebeeckweg en Annandalestraat.

Volgens sers. Wesley Twigg, provinsiale polisiewoordvoerder, het die polisie ‘n 30-jarige man met skietwonde in ‘n Mini Cooper aangetref. Die man is deur medici op die toneel dood verklaar.

Twigg sê volgens getuies het ‘n onbekende verdagte op die slagoffer gevuur toe hy by die kruising stilgehou het.

Video

In ‘n video wat aanlyn en op buurtwaggroepe versprei is kan gesien word hoe die aanvaller na die Mini toe hardloop en dan reg van voor skote op die voertuig afvuur. Die aanvaller spring kort daarna in ‘n ander voertuig wat dan weg ry.

‘n Skermgreep van die video

In nog ‘n video wat na die voorval geneem is kan vyf koeëlgate in die Mini se voorruit gesien word asook verskeie patroondoppies wat naby die voertuig lê.

Die skieter het van die toneel gevlug en geen verdagtes is nog aangekeer nie, sê Twigg.

“Die motief vir die aanval is waarskynlik bende-verwant.”

Die speurders van Kuilsrivier-polisie ondersoek die saak.

Enigeen met inligting oor die voorval kan die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 skakel of anoniem van die MySaps-toep gebruik maak.

You need to be Logged In to leave a comment.