Nog iemand is die afgelope week in Bonteheuwel doodgeskiet in die derde moord in net drie weke.
TygerBurger het verlede week berig oor twee lyke wat op ’n treinspoor in Bonteheuwel gevind is.
Verlede week was daar ’n skietery by die Shell-vulstasie in Jakkelsvlei-laan. Een persoon is doodgeskiet en twee petroljoggies wat in die spervuur beland het, is gewond.
Volgens beskikbare inligting het die oorledene deur die vulstasie gehardloop terwyl die skieters hom agternagesit het. Hy is in die kop geskiet.
Angus McKenzie, plaaslike raadslid, sê dis duidelik dat die aanval die werk van bendes is.
“Daar is mense wat weet wie die moordenaars is, maar swyg. Hierdie bendelede beweeg tussen ons, maar wanneer daar ’n skietery is, het niemand niks gesien nie. Hoe kan dit wees?”
McKenzie vra weer die gemeenskap se hulp om die moordenaars vas te trek.
“Ons moet almal saamwerk om hierdie wetteloosheid te stop. Ons kan nie weer terugkeer na die donker dae van mense wat links en regs doodgeskiet word nie. Ons kan regtig nie,” sê McKenzie.
Die polisie het die moord en die aanval op die petroljoggies bevestig, maar niemand is nog weens die moord in hegtenis geneem nie.
“Die polisie doen alles in hul vermoë om die verdagtes aan te keer,” sê sers. Samantha Adonis.


