Die Suidoosterfees wat van 30 April tot 4 Mei in die Kunstekaap-teater plaasvind se NATi-Teaterfees spog met produksies wat feesgangers se verbeelding gaan aangryp.
Fynproewers kan uitsien na Breyten Breytenbach se Verwelkingslied, sy laaste verhoogdrama wat hy kort voor sy dood in 2024 spesiaal vir die Suidoosterfees geskryf het. Breytenbach het sy swanesang aan Antoinette Kellermann en Marthinus Basson, teaterveterane met wie hy in die verlede nou saamgewerk het, opgedra. Kellermann speel die rol van ‘n ou verhoogaktrise teenoor Dawid Minnaar, wat ‘n dooie digter, herkenbaar as Breytenbach self, voorstel. Met Verwelkingslied spreek Breytenbach sy laaste woord aan die teaterwêreld en, op byna profetiese wyse, beskryf die digter sy dood en begrafnis.
Ronelda Kamfer se veelbekroonde roman, Kompoun, deur Jolyn Phillips vir die verhoog verwerk, vertel die verhaal van die McKinney-familie by monde van twee kleinkinders, Nadia en Xavie. Melissa de Vries en Angelo Bergh vertolk die rolle onder regie van Lee-Ann van Rooi.
Annie + Helen is’n aangrypende drama wat handel oor ‘n 12-jarige Helen Keller en die 25-jarige Annie Sullivan. Judi Hattingh, ‘n 13-jarige leerder van Curro Durbanville, vertolk die rol van Helen, en Cintaine Schutte speel Annie. Dié inspirerende verhaal van twee formidabele vroue hou kosbare lesse in.
Carlo Daniels is te sien in die eenmanstuk Die uitweg, gegrond op ‘n Kafka-kortverhaal. Hy speel die rol van ‘n pedantiese kêrel wat ná ‘n moeilike dag by die huis kom en twee bonsende klein balletjies in sy sitkamer vind.
Simon Bruinders is terug op die verhoog met Die sideboard en die vuur, ‘n opvolg van Die sideboard wat ‘n dekade gelede die lig gesien het. Vanessa Swartz is saam met Bruinders op die verhoog in dié verhaal oor Abraham en Stella, wie se bestaan deur gedwonge verskuiwings bedreig word.
Liefde en komedie
Dramas waarvan die Suidoosterfees medevervaardiger is en reeds uitstekend by ander kunstefeeste ontvang is, kom ook na die Kunstekaap se verhoog.
Philip Rademeyer se Stinkhout met Frank Opperman en Wilhelm van der Walt het reeds vele toekennings verower. Christo Davids se gewilde Laaitie met die biscuits, met Wayne van Rooyen, Stephanie Baartman, Carla Classen en Joshwin Dyson, kom maak ook ‘n Kaapse draai.
In Hortjies dig – die storie van digter Peter Blum, word dié omstrede skrywer se dikwels skandalige lewe en literêre nalatenskap in oënskou geneem. Chris van Niekerk en Joanie Combrink is op die verhoog as Blum en sy vrou, Hetta.
Arnold Vosloo, wat in Hollywood naam gemaak het, verskyn saam met Elzabé Zietsman in Liefdesbriewe. Zietsman het dié Broadway-treffer deur A.R. Gurney in Afrikaans vertaal.
Wendy Anthonie se Anderkant die treinspoor kombineer teater, woordkuns, musiek en dans om ‘n liefdesverhaal te vertel waarby twee bendes op die dorpie Spoorvallei betrokke is. Die produksie herinner aan West Side Story en Shakespeare se Romeo & Juliet.
Nog ‘n produksie waarin verskillende genres en dissiplines bymekaar kom, is die Figure of 8-dansgeselskap se Die een wat bly, waarin Daneel van der Walt, Grant van Ster en Shaun Oelf te sien is. Dit handel oor die verhouding tussen kinders en ouers, en die ervaring van verlies wat noodwendig daarmee gepaard gaan.
Komedie bly nie agterweë nie. Hans bars die bioborrel, gegrond op Rudie van Rensburg se boek word ook opgevoer.
Besoek www.suidoosterfees.com vir die feesprogram. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets.