Die enigste werkende model van sy soort in Suid-Afrika, `n 1939 Duitse Lanz Bulldog-kruipertrekker, gaan die ster wees by die Wes-Kaapse Veteraantrekker-en-enjinklub se jaarlikse skou by die Killarney-renbaan.
Die uitstalling word op Saterdag 6 en Sondag 7 September deur die klub aangebied.
Wat dié spesifieke Lanz Bulldog so merkwaardig maak, is dat daar volgens oorvertellings net drie van hierdie modelle wêreldwyd oor is.
“Jy kry baie Lanz Bulldogs, maar net dié met kettingwiele is uiters skaars,” sê Hannes Rheeder, organiseerder.
‘n Ervaring vir enjinliefhebbers
“Net om die enjin aan die gang te kry is reeds ‘n belewenis vir enjin-entoesiaste,” sê Rheeder. Die Bulldog-enjin is horisontaal geïnstalleer, met ‘n gloeikop (of hot bulb) wat vorentoe wys.
“Eers moet die gloeikop van onder af met ‘n paraffienvlam warm gemaak word. Dan draai jy die slinger heen en weer om momentum op te bou om oor die kompressiefase te kom,” verduidelik hy.
“Jy moet maar hoop dit vat vlam, anders begin jy van voor af. Dit neem maklik 15 tot 20 minute net om die enjin aan te skakel. Die hele proses sal by die skou gedemonstreer word,” sê hy.
Van Clanwilliam na Killarney
Die spesifieke model wat vertoon gaan word, behoort aan die Koegelenberg-familie van Clanwilliam.
“Ons het die trekker in die laat 1960’s bekom. My oupa het dit op ‘n treinstasie naby Eendekuil in die Sandveld gaan haal om te restoureer toe hy hoor hulle wou dit opsny vir skrootmetaal. Die meeste van hierdie trekkers is destyds vir skroot uitgevoer,” vertel Suné Koegelenberg.
Die restourasie is oor 40 jaar gedoen, en in 2011 is die enjin vir die eerste keer weer aangeskakel.
“Dis ook nie maklik om te ry nie,” sê sy. “Ek het grootgeword met trekkers, maar ek weet nie hoe om hierdie een te bestuur nie. Hy het nie ‘n stuurwiel nie. Jy stuur met hefbome aan albei kante. Jy moet weet waar om te vat en waar om te los,” sê sy.
Meer as 100 veteraantrekkers
Benewens dié seldsame Lanz Bulldog sal daar sowat 100 ander ten volle gerestoureerde veteraantrekkers van oor die Wes-Kaap op skou wees.
Die trekkers dateer van tussen die 1920’s en 1980’s en sluit bekende vervaardigers soos John Deere, Ferguson, Allis-Chalmers en Massey Harris in.
“Ons gaan ook groot pret hê met 50 m-trekkerresies, en liefhebbers van oudhede kan hul verlustig in ons ‘klein erfgoed’-uitstalling met items soos ou naaimasjiene en botterkarrings,” sê Rheeder. “Ons gaan kierangs braai en skuinskoek eet, en selfs ‘n donkiebaler in aksie sien.”
‘n Donkiebaler is ‘n ou meganiese masjien wat in die ou dae hooi of strooi in bale saamgepers het, en is aangedryf deur ‘n trekdier soos ‘n donkie, perd of os. Die dier het in ‘n sirkel gestap en so die roterende meganisme aangedryf wat die baler laat werk het. Hierdie masjien het ‘n belangrike rol gespeel in die geskiedenis van landbou, veral in Suid-Afrika se plattelandse gebiede – lank voor die era van moderne trekkers.
Musiek, kos en lekker kuier
Daar sal ook ‘n enjin van ‘n Russiese spuitvliegtuig op uitstalling wees, asook `n versameling weermagvuurwapens. Kinders kan uitsien na ritte op ‘n sleepwa wat deur ‘n halfskaal-stoomtrekker getrek word, sowel as regte trekkerritte.
Die gewilde Kitaar Kêrels en die Rusverstoring-orkes sal sorg vir lewendige musiek, en daar sal volop kosstalletjies wees vir elke smaak.
Of jy nou ‘n passie vir ou trekkers het, lief is vir nostalgiese landboutoerusting of net op soek is na ‘n lekker kuier saam met die hele gesin, die uitstalling beloof om `n unieke ervaring te wees – `n geleentheid wat jy nie wil misloop nie.


