Skaakspelers vat mekaar aan in Parow

’n Doodse stilte het verlede week in die Parow-gemeenskapsaal geheers terwyl skaakspelers – jonk en oud – mekaar die stryd aangesê het.


’n Doodse stilte het verlede week in die Parow-gemeenskapsaal geheers terwyl skaakspelers – jonk en oud – mekaar die stryd aangesê het.

Skaakspelers van biblioteke reg oor die Kaap het verlede Donderdag 5 Oktober aan die Stad Kaapstad se Chess@libraries-skaaktoernooi in die saal deelgeneem.

Die biblioteke wat vanjaar deelgeneem het, sluit onder meer in Parow, Lentegeur, Pinelands, Wynberg, Crossroads, Weltevreden, Kensington, Delft, Bishop Lavis, Harare, Kaapstad-Sentraal, Goodwood, Mfuleni, Brooklyn, Valhalla Park, Athlone, Manenberg, sowel as Huguenote Square in Belhar en Adriaanse in Matroosfontein.

Pandemie halt kompetisie

Christelle Lubbe, hoof van professionele dienste en programme by die Stad Kaapstad se biblioteek-en-inligtingsdiens, sê die laaste toernooi is in 2019 gehou en dat biblioteke sedert die Covid-19-pandemie dit moeilik gevind het om mentors by biblioteke te kry om met die toernooi te help.

“Die huidige toernooi bestaan uit 70 spelers van 19 biblioteke in die uitdunrondes.

“Dit is in Julie by verskillende biblioteke begin om die finale spanne vir hierdie deel van die kompetisie vandag (Donderdag) te bepaal,” het Lubbe verduidelik.

Lubbe sê verlede week se wenners is as die Biblioteek-skaakkampioene 2023 gekroon.

Dis ’n gesonde kompetisie onder biblioteke self om as kampioenbiblioteek gekroon te word, sê sy.

Die spelers se ouderdomme wissel tussen sewe jaar en 50 jaar. Lubbe sê die biblioteekspanne is vir entoesiastiese individue wat nie noodwendig by ’n spesifieke klub of skool geaffilieer is nie.

Vanjaar se toernooi het ook ’n paar nuwelinge opgelewer wat aan skaak by biblioteke bekend gestel is.

“Ek het my passie vir skaak op sewejarige ouderdom ontdek toe ek aan dié sport by die Wynberg-biblioteek bekendgestel is. Ek lei deesdae ander by die biblioteek op,” sê Mikhaela Jacobs (16) van die Wynberg-biblioteek, wat vanjaar en ook in 2019 aan dié toernooi deelgeneem het. Sy is verheug dat die toernooi weer aan die gang is.

Sedert 2017 aan die gang

Die skaaktoernooi het in 2017 begin en sedertdien het elke biblioteek wat daarby betrokke is, ’n personeellid aangestel om hulle te verteenwoordig.

Die rol van dié persoon is om die kennis wat hulle tydens die toernooi opgedoen het, terug te neem na sy of haar biblioteek en sodoende die gemeenskap te verryk deur skaak by die biblioteek te bevorder, sê Lubbe.

Dit sluit ook in om skaak-liefhebbers in hul onderskeie gemeenskappe te vind en om hulle bymekaar te bring by die biblioteke en daarop voort te bou, sê sy.

Dié mense is ook daarvoor verantwoordelik om die top-spelers te identifiseer en sodoende te verseker dat hulle ’n span het wat die biblioteek kan verteenwoordig in die verskeie kwalifiserende rondes wat deel van die projek vorm, sê Lubbe.

Die toernooi het met sy aanvang in 2017 meer as 20 biblioteke gehad wat deelgeneem het, wat die totale aantal deelnemers op byna 100 te staan gebring het.

“In 2019 het ons nog ’n suksesvolle jaar gehad met die projek, met die teenwoordigheid van 75 spelers in die finale ronde,” sê Lubbe.

Vanjaar se wenners in die kompetisie is Khanya Gcuze van die Crossroads-biblioteek (Top-vrou), Lutho Mfazwe van die Delft-biblioteek (eerste), Keenan Adams van die Lentegeur-biblioteek (tweede) en Ayabonga Mchonisi van die Crossroads-biblioteek (derde).

You need to be Logged In to leave a comment.