’n Mens weet sommer vinnig wanneer die groep Simplicity hul liedjies oefen.
Dan sien ’n mens kinders nader staan en volwassenes se voete saamdans.
Die groep in Bellville-Suid maak deesdae oral opslae waar hulle speel met hul toeganklike, dog uiteenlopende musiek en lekker ritme.
Die groep bestaan uit Joneca Owies (sang), Romano Fillies (klawerbord en sang), Rees Davids (kitaar), Ryan Swile (baskitaar), Mark Suker (sanger), Zavier Jood (tromspeler) en Keagan Cupido (platejoggie). Hul bestuurder is Anthea Josephus.
“Ek en Roman het altyd saam ge-jam by my huis,” sê Swile. “Ons het gedink ons kan ’n band begin, want ons weet nie van ’n ander een nie.”
Hulle het stelselmatig die ander lede genader om betrokke te raak.
Die groep deel ’n paar belangstellings en aspekte. Buiten hul musiek, is elkeen ook betrokke by hul onderskeie kerke.
Dit is juis waar die meerderheid oor naweke ook tydens kerkdienste speel.
“Die band se fondament is die kerk,” sê Suker.
Hulle het begin as ’n gospelgroep, maar speel nou iets van alles. Hulle kies op Maandae die musiek wat hulle Woensdae gaan oefen voor hulle Saterdae optree.
Besig
Dit gaan soms dol, want elkeen van die groep het ook ’n voltydse werk, jong kinders en hul kerkgroepe se repetisies.
Tog kry die vol skedules hulle nie onder nie, sê Fillies. “Ons is lief vir wat ons doen.”
Tans oefen hulle by Suker se huis, wat op ’n hoek geleë is. Die ligging lei na vele besprekings, soos die buurt saamluister.
Bure kla nie, sê hulle. “(Hulle sê dis reg) solank julle net goeie musiek speel,” sê Davids.
Hulle glo sterk Simplicity gaan na iets groter lei.
“Ons is ’n community-based band,” sê Suker.
“Ons wil nie net ’n band wees nie,” sê Davids. Hulle voel Bellville-Suid het agteruitgegaan en wil ander inspireer om meer te doen. “Ons wil ’n voorbeeld wees.”
Hulle het groot planne om Simplicity uit te brei en ’n vermaakbesigheid te stig wat iets van alles bied.


