Avontuur wag daar buite hierdie winter. FOTO: PIXABAY


Hier in die Kaap raak die winter maar lekker koud en ry mense veel eerder met Jan Tuisbly se karretjie as om uit te gaan. Wie kan hulle nou blameer? Met die reën op die ruite en sneeu op die bergtoppe, is dit tog te aanloklik om tuis onder ’n kombers te hiberneer met ’n boek in die een hand en ’n koppie koffie in die ander.

Vir die avontuurlustiges onder ons, is sulke knus binnemuurse vermaaklikhede egter ’n resep vir verveeldheid. Gelukkig sluit die natuur nie haar deure vir die winter nie en hoef die koue jou nie binne te hou nie. Daar is oorgenoeg redes waarom kamp in die winter ’n fantastiese ervaring kan wees.

1. Soete stilte

Absolute stilte is een van die skaarsste kommoditeite in ons gejaagde lewens. Dis nou nie die tipe stilte wat jy kry as die televisie af is, die kinders by die skool is en net die yskas in die agtergrond dreun nie. Die stilte wat kampeerders in die winter ervaar, oortref enige ander ervaring daarvan: ’n doodse, amper verslawende swye wat nie eers deur zoemende bye of ritselende blare bederf word nie. Die aarde slaap, en jy word genooi om saam te kom rus.

2. Kampvuur-kuiers

Ja, jy kan in die somer ook saans ’n vuurtjie aansteek, maar dis darem maar ekstra lekker in die winter as almal nader aan die vlamme skuif om van die lug se koue byt te ontsnap. In die winter is die vuur nie net vir vleisbraai nie; dit is vir stories vertel, gesels, musiek maak en onbreekbare bande smee. En totdat die laaste kameraad ingekruip het, word daar maar nog ’n houtjie vir die vlamme gevoer.

3. Geen geroesemoes

In die somer staan die kampterreine vol, en dit is moeilik om werklik die buitelewe te geniet. In die winter, wanneer die koue meeste mense binnetoe jaag, kan jy ordentlik wegbreek en in rus en vrede saam met jou hartsmense en Moeder Natuur kuier.

4. Minder goggas

Maak nie saak hoe mooi die uitsig van jou tent af is nie, as jy sleg geslaap het van ’n gedurige geneul in jou ore en vol jeukende bytmerke wakker word, lyk die veld altyd minder vrolik. In die winter kan jy veel minder muskiete, spinnekoppe en ander meerledige kuiergaste op die kampterrein verwag. Los dus maar die insekdoder tuis, lees jou onopgerolde koerant in vrede en slaap lekker.

5. Kyk net daai sterre!

Minder mede-kampeerders beteken minder lig rondom jou. En hoe donkerder dit rondom jou tent is, hoe meer sterre sal in die ­hemelruim verskyn. Sit ’n mus op, dra jou slaapsak buitentoe en verkyk jou aan die melkweg in magiese stilte.

6. ’n Goeie verskoning om topgehalte toerusting te koop

Laat ons nou maar eerlik wees, kamp in die winter is nie noodwendig vir sissies nie. Nou is jou kans om al die peperduur, gespe­sialiseerde kampgereedskap by die buitelugwinkel te koop: die slaapsak wat vir kamp in die Himalajas gemaak is, baadjies wat jou bo-op Kilimandjaro sal kry en kouse wat al tien jou tone sonder vriesbrand weer tuis sal besorg. Bederf jouself ’n slag met die goed wat jy nie vir ’n someruitstappie kan regverdig nie.

7. Spog so bietjie

Jy’s nie een van die skapies wat deur die winter in die kraal ingejaag word nie. Nee, jy skrik nie vir koue pampoen óf weer nie! Dus, as dit weer warmer word en jou vriende vertel jou van die “naelbyt” bordspeletjies wat hulle deur die koue maande gedra het, pronk gerus so bietjie met jou buitelugavonture.

Miskien oortuig jy ’n paar van hulle om volgende keer saam te kom kamp.

  • Bykomende bron: www.explore-mag.com

You need to be Logged In to leave a comment.