Die Kuilsrivier-polisie ondersoek die moord op ’n 16-jarige seun wie se liggaam Sondagmiddag (16 Februarie) naby die Kalkfontein-voetbrug gevind is.
Volgens inligting verskaf deur Lt.kol. Nokwanda Harmans, waarnemende stasiebevelvoerder, is polisiebeamptes wat in die omgewing op patrollie was omstreeks 16:00 per radio ingelig dat ’n liggaam naby die voetbrug agter die huise in Hesterstraat, Kalkfontein, ontdek is.
Met die polisie se aankoms op die toneel het gemeenskapslede aan hulle uitgewys waar die liggaam in die oop veld lê.
Die liggaam het brandwonde aan die maag en regterarm, ’n steekwond aan die keel en kneusplekke aan die gesig gehad.
Die slagoffer se bruin bostuk wat hy aangehad het, was bo-oor sy kop getrek. Sy liggaam was ook onder ’n motorband en die agterkant van ’n televisiestel versteek.
Die oorledene is as Liam Sauls (16) van Kalkfontein geïdentifiseer.
Kontak Lt.kol. Nomzamo Mpumela, bevelvoerder van die speurdiens, by 082 469 7330 met enige inligting wat met die ondersoek kan help.