Seun klaarblyklik dood oor musiek

’n Vyftienjarige skoolseun is Dinsdagaand (27 Junie) deur ’n ander seun in die straat in Fisantekraal doodgesteek.


’n Vyftienjarige skoolseun is Dinsdagaand (27 Junie) deur ’n ander seun in die straat in Fisantekraal doodgesteek.

Volgens kapt. Marchell Rhode, woordvoerder van die Durbanville-polisie, het die voorval omstreeks 18:30 op die hoek van Shiraz Ebrahim- en Peter Mokabastrate plaasgevind.

Die oorledene, Jaydon Sellidon, ’n leerder aan die Primêre Skool Alpha in Morningstar, en ’n ander seun (16) het na bewering ’n argument gehad toe laasgenoemde ’n mes uithaal en hom drie keer in sy linkersy steek.

Die seuns het glo saam skool gegaan en na bewering gestry oor musiek.

Die seun se ouers het hom na die Mediclinic Durbanville gehaas, maar hy is onderweg oorlede.

Die 16-jarige verdagte is in hegtenis geneem en het reeds in die Bellville-landdroshof op ’n klag van moord verskyn.

Volgens Rhode is traumaberading aan die oorledene se ouers gegee.

You need to be Logged In to leave a comment.