“Ons het hom sommer net Ballas genoem. Sy regte naam was op sy papiere, maar dié het ook uitgebrand.”
Hierdie was die woorde van Elsie Kleinveld, die ouma van ‘n vierjarige seun wat Woensdagaand in dieselfde brand omgekom het.
Die seun en sy ma, Eltrisma Lewies, het in ‘n plakkershut in Kraaifontein gewoon. Lewies en haar seun het reeds geslaap toe die brand om 21:45 uitgebreek het, sê Kleinveld.
“Ons vermoed dat ‘n kers omgeval het. Eltrisma het wakker geword van die rook en uitgehardloop, maar sy kon Ballas nie betyds red nie.
“Sy het na hom geroep, maar hy het nie geantwoord nie. Oomblikke later het sy uit die rook gestrompel.”
Met TygerBurger se besoek Donderdag, kon die raam van die uitgebrande bed steeds gesien word waar dit in die hut gestaan het.
Lewies is tans in die Tygerberg-hospitaal se intensiewesorgeenheid met derdegraadse brandwonde aan haar hande en arms.
Die Stad Kaapstad was reeds op die toneel en het sinkplate aan die gesin geskenk om hul hut te herbou.
Maar dit gaan Ballas nie terugbring nie, sê sy ouma.
“My hart is baie seer.”


