Die Jubileum-aftreeoord het onlangs gebreide artikels aan 18 howe vir seksueel mishandelde kinders oorhandig.
“Ons is 36 senior vroue wat die naalde laat klik en ons hande besig hou met breiwerk vir die 18 howe. Hierdie artikels word verdeel tussen seksueel mishandelde kinders wat die trauma moes deurmaak van die afskuwelike dade,” verduidelik Linda Louw, ’n afgetrede inwoner van die aftreeoord.
“Ons is al vir vier jaar by die projek betrokke en lewer ons beste vir hierdie liggies van Jesus.
“Die artikels sluit pragtige, laggende teddiebere, die fraaiste poppies, lekker warm wolmussies, serpe en handskoentjies, truie, poncho’s, heerlike wolslaapkousies en pragtige kniekombersies in,” vertel Louw.
Kinderslagoffers
Volgens Louw is die nood groot. “Kinderslagoffers kom honger en dors daar aan vir hul konsultasies of as hulle moet getuig. Ligte kitspap, kitsnoedels, ontbytstafies, kitssop, Niknaks en warm en koue drinkgoed maak hul honger magies warm,” sê sy.
Louw tree ook op as koördineerder van die projek en bestuur ook die donasies van die publiek.
Sy werk met die staatsaanklaers en tree met hulle in verbinding. Sy reël toesprake deur die welsynwerkers en staatsaanklaers wat die vroue inlig oor die verspreiding van die donasies en die gebeure by die howe.
Toename in verkragtings
“Met die daaglikse toename in verkragtings onder vroue en minderjarige kindertjies is dit van kardinale belang dat hierdie ’n volhoubare projek moet wees. Dit maak só ’n verskil in die lewens van hierdie stukkende mensies,” vertel Louw.
“Met die koue wintermaande verwelkom ons enige bydrae van breigoed, tweedehandse klere, speelgoed, eetgoed en selfs kontant,” sê sy.
Voordele
“Vir ons as vrywillige, betrokke seniors hou dit groot voordele in,” volgens Louw.
- Hulle bly aktief;
- Dit gee hulle weer ’n sin van waarde;
- Dit voorkom vereensaming;
- Hulle bly aktief en maak sommer nuwe vriende ook;
- Hul mooi handewerk maak hul trots;
- Hulle is dankbaar om ’n verskil in hul gemeenskap te kan maak.
Bel Linda Louw by 084 554 1984 indien jy ’n bydrae tot hierdie waardige projek wil lewer, in watter vorm ook al, of dalk self betrokke wil raak.
“Ek bied aan u die versekering dat ek uiters versigtig met u donasies en kontantbydraes sal werk,” verseker Louw


