By die Othello aftree-oord prut die soppotte en het inwoners binne ses maande soveel as 900 liter sop aan gesinne in voedselnood voorsien.
Dié bobaaskokke het in Junie by die Jesus in Aksie-uitreikprojek in Brackenfell aangesluit by ’n projek om behoeftige gesinne, asook individue, van kospakkies te voorsien.
“Die wat onder die indruk is dat jy by aftrede nie meer ’n verskil kan maak deur projekte te ondersteun nie, is heeltemal verkeerd. Die Othello-aftreeoord in Brackenfell se inwoners is by verskeie uitreikprojekte betrokke,” sê Helette Wessels, maatskaplike werker by Othello.
Inwoners kry die geleentheid om een keer per maand bestanddele by te dra en sop voor te berei.
Die sop word dan in tweeliter-roomysbakke gevries en in plastieksakkies verpak vir Jesus in Aksie om die sop saam met die kospakkies te versprei. Die uitreikprojek is net volhoubaar met die ondersteuning van die plaaslike gemeenskap.
“Elke donasie word met hartlikheid en groot dankbaarheid ontvang. Daar moet egter by uitsondering melding gemaak word van twee bobaas-ondersteuners van die uitreikprojek. Alet Kriel het 372 liter sop voorsien en Ralie Marais 130 liter,” sê Wessels.
Volgens die inwoners wat die projek ondersteun, bied dit vir hulle ’n geleentheid om weer van waarde te voel.
“Die projek het ook tot gevolg dat daar op verskeie vlakke ondersteuning gebied kan word. Daar is inwoners wat net sop- bestanddele kan voorsien, en ander wat die sop kook. Selfs familielede en kleinkinders voorsien bestanddele. Elkeen dra by volgens hul vermoë en die betrokkenheid dra by tot ‘n positiewe samehorigheidsgevoel.”
Wessels voeg by dat die projek ook terapeutiese waarde vir die inwoners inhou.
“Die betrokkenheid van inwoners by uitreikprojekte ondersteun inwoners se behoefte om hul vaardighede te kan uitleef en omgee te demonstreer,” sê Wessels.





