Die suster wat op 12 Mei aan diens was, het die kakkerlakkwessie glo dadelik gerapporteer. Die kamer is ontruim, onbedekte kos en versnaperinge is verwyder, die kamer is skoongemaak en behandel vir die kokkerotte.

Daar is min dinge so ontstellend soos ‘n 93-jarige ma wat op Moedersdag tranerig is oor die somtydse krioel van enkele kakkerlakke in haar kamer, kaste en selfs oor haar liggaam.

Die ongelukkigheid van Myra Slabber het haar seun, Wayne Theart, genoop om ‘n klagte teen Ons Tuiste in Bellville aan te meld. Sy woon al sowat 13 jaar in die tehuis.

Theart beweer dat die kwessie van kakkerlakke ‘n herhaalde tendens is wat by vorige geleenthede tot samesprekings tussen hom, sy suster, Sharon Lillie, en die bestuur van die tehuis gelei het.

Skriftelike klag

“Ek het op 12 Mei die eerste skriftelike klagte aan die bestuur gestuur, en weer op 19 Mei nog ‘n skriftelike opvolg gedoen – en tot vandag toe het ek nog geen terugvoer ontvang nie,” het hy op Dinsdag 27 Mei vertel.

Twee getikte kopieë, soos aan Ons Tuiste in Bellville se bestuur gerig, is ook aan TygerBurger verskaf.

“Elke keer word beloftes gemaak, maar geen volhoubare oplossing word ingestel nie. Na my mening behoort die hele gebou ontsmet te word,” het Theart bygevoeg.

Hy het ook foto’s gewys met die enkele kakkerlakke in Slabber se kamer, sowel as ‘n dooie een in haar klerekas.

“Sy het ons al moedeloos vertel dat die goed al onder die klere aan haar lyf uit krioel. Dit is mos nie iets wat ‘n mens op haar oudag wil ervaar nie. Sy’s bejaard en is nie meer so rats nie,” meen hy.

Ons Tuiste se bestuurder, Annalie Nel, het by navraag gesê hulle is sedert Maandag 12 Mei bewus van die kakkerlakkwessie.

“Die suster wat aan diens was, het dit gerapporteer en die situasie is onmiddellik hanteer. Die kamer is ontruim, onbedekte kos en versnaperings is verwyder, die kamer is ge-deep clean en behandel vir die kokkerotte,” verduidelik Nel.

Dit het wel aan die lig gekom dat Ons Tuiste geen e-pos van Theart of Lillie in dié verband ontvang het nie.

“Daar is spesifiek op al die beskikbare e-posse van Ons Tuiste ondersoek ingestel vir e-posse wat in die loop van Mei, van 12 tot 28 Mei, ontvang is, en geen e-posse is van hulle ontvang nie.

Periodieke plaagbeheer

Sy bieg dat die kakkerlakkwessie periodiek sedert 2023 te voorskyn kom. Verlede jaar, voeg Nel by, het die bestuur egter vir Slabber van die eerste verdieping in die gebou na ‘n opgeknapte kamer op die tweede verdieping verskuif.

Die kakkerlakke het egter weer in die nuwe kamer te voorskyn gekom, sê Nel.

Die bestuur moedig inwoners aan om hul ruimtes skoon te hou, en versoek inwoners op vergaderings om nie eetgoed of versnaperings in oop houers in hul kamers te hou nie.

“Om die inwoners se families te betrek en hul samewerking te kry, bly ‘n probleem, soos om te versoek om die kamer met die minimum meubels en clutter te laat, en gereeld kaste reg te pak en uit te sorteer. Ons versoek ook gereeld dat inwoners hul etenstye in die kamers tot die minimum beperk.”

Nel noem ook dat samewerking in die verband nie gekry word nie.

Ten slotte verseker die bestuur die volgehoue toepassing van pesbeheer en hanteer individuele gevalle soos dit voorkom. Nel sê ook die tehuis het ‘n kontrak met Rentokil aangegaan, wat maandeliks plaagbeheer en peskontrole toepas.

Myra Slabber (93) woon al sowat 13 jaar by Ons Tuis in Bellville en was al in trane oor die periodieke kakkerlakkwessie.

You need to be Logged In to leave a comment.