In Bellville-Suid is ’n 61-jarige man Woensdagnag 5 Februarie doodgeskiet wat gelei het tot ’n moordondersoek deur die Bellville-Suid-polisie om die onbekende aanvaller vas te trek. FOTO: Pexels


’n Man (61) is Woensdagnag 5 Februarie in Bellville-Suid doodgeskiet.

Dit het gelei tot ’n moordondersoek deur die Bellville-Suid-polisie om die onbekende aanvaller vas te trek.

Die man is op die toneel dood verklaar toe sy liggaam om 22:35 in Frank Louwstraat gevind is.

Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse-polisiewoordvoerder, het aan TygerBurger bevestig dat ’n skietwond in die oorledene se nek opgemerk is.

“Die slagoffer is later geïdentifiseer en sy familie is in kennis gestel. Die voorval hou vermoedelik met roof verband. Die Bellville-Suid-polisie het ’n moordsaak vir ondersoek geregistreer,” sê Van Wyk.

Die man is welbekend, ’n rustige, hardwerkende “werk-en-kerk”-man.

David Cecil, voorsitter van die Bellville-Suid-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het aan TygerBurger gesê hulle is bekommerd oor die voortdurende bendegeweld in die gebied.

“Ons het by vorige geleenthede ons misnoeë oor die situasie in Bellville-Suid uitgespreek – nie net wat betref die geweld daarvan nie, maar ook die mate waartoe misdaad gepleeg word. Ons is bekommerd oor konstante bendegeweld en die kinders wat nie skool toe gaan nie en dan bedrywig is met klipgooiery. Dit lei stelselmatig tot geweld en ander misdade.”

Die Bellville-Suid-GPF is in die proses om ’n opname en samevatting te doen oor moord- en misdaadgevalle wat in die feestyd en Januarie gepleeg is.

Enigiemand met inligting oor die moord word versoek om die ondersoekbeampte, sers. Annelize October, by 082 469 3264 te bel.

You need to be Logged In to leave a comment.