Monte Vista spog deesdae met nog ’n unieke toevoeging, ’n sement- tafeltennis-tafel – ’n eerste van sy soort in die Wes-Kaap. Vroeër vanjaar het die gebied ook ’n ikoniese geel raam ontvang, waar besoekers foto’s kan neem met Tafelberg in die agtergrond.
Die tafeltennis-tafel is geleë by Dias-park, Monte Vista, en is op Vrydag 15 Desember amptelik bekend gestel.
Cheryl Visser, ’n raadslid vir wyk 1, het die geleentheid met plaaslike inwoners bygewoon. Volgens haar is die tafel deel van die 2023-’24- boekjaar se wyksbegroting vir projekte – ’n vroeë Kersgeskenk.
“Elke boekjaar word ’n begroting toegewys aan alle wyke vir projekte. Elke wyk ontvang dieselfde bedrag. Idees vir sulke projekte kom van inwoners, wykskomiteelede en belastingbetalers- en buurtwag-organisasies,” sê sy.
Die idee vir die buitelug-sementtafel vir tafeltennis kom van die Monte Vista- Plattekloof Glen-belastingbetalers- en inwonersvereniging en die plaaslike wykskomitee.
“Ons is ook geïnspireer deur die Lentz-susters van Monte Vista wat uitblink in tafeltennis. Genevieve Lentz is ’n internasionale tafeltennis-skeidsregter, Leandrè Lentz-Sparks is ook ’n internasionale skeidsregter en Monique Lentz is tans die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se tafeltennis-kampioen.”
Noxolo Matshoba, ’n tegnikus van die Stad Kaapstad se parke- en ontspannings-afdeling, het toegesien dat die tafel korrek beplan en gebou word.
“Oor die jare het ons saam baie suksesvolle projekte met Noxolo se hulp verseker. Kelvin Irvine en Tyrel Painczyk van die belastingbetalers- en inwonersvereniging lewer ook ’n groot bydrae en werk nou saam met my en parke en rekreasie om te verseker dat projekte suksesvol is. Ek vertrou dat inwoners en besoekers die sementtafel sal geniet en dat dit jongmense sal inspireer om die sport te speel.”
Die tafel is deel van die opgradering van Dias-park.
Paadjies gaan ook in die boekjaar in dié park gebou word en ’n nuwe speelraam vir kinders gaan ook opgerig word.
’n Ander suksesvolle wyksbegrotings-projek vir die jaar is ’n herinneringsmuur wat pas by die Memorial Forest in Monte Vista opgerig is. Die belastingbetalersvereniging sal besluit wie hy op die muur wil vereer, sê Visser.
Nog ’n projek is die instandhouding en opknappingswerk aan paadjies van die Panorama-, Welgelegen- en Plattekloof-deel van wyk 1.
“Ek vertrou dat die werk vroeg in die nuwe jaar sal begin ná die bouers se vakansie.
“Die insette van die plaaslike belastingbetalers sal bepaal waar die werk gedoen sal word,” sê Visser.