Jimmy Francis en sy vrou, sus Eleanor (heel links), wys die seniors van Nelson Mandela se foto’s in die parlementsgebou.FOTOS: Solly Lottering


’n Groep senior burgers van die Bethel Tabernacle Volle Evangelie-kerk in Scottsville het vandeesweek ’n onvergeetlike besoek aan die Suid-Afrikaanse parlement in die Kaapse middestad meegemaak.

Die besoek, wat deur Latasha Storm van Help to Care SA gereël is, het ’n blywende indruk gemaak op die seniors wat met groot belangstelling in die land se politieke landskap huis toe is.

Dit was deel van die 30 Jaar van Vryheid-feesviering om die helde van demokrasie te vereer en vir senior burgers om eerstehands die hart van die land se demokrasie te ervaar.

“Dit is belangrik vir almal, ongeag hul ouderdom, om te verstaan hoe die regering werk en hoe beleid gemaak word wat ons almal raak,” sê Storm.

Die Bethel Tabernacle-kerk se seniors in Scottsville het Woensdag die parlement besoek. Agter staan (heel links) die pastoorspaar Jimmy Francis en sy vrou, Eleanor, wat die besoek gereël het.FOTO:

“Ons as landsburgers verkies die mense om ons, en nie politieke partye nie, in die parlement te verteenwoordig.”

Toer

Die toer het begin met ’n verwelkoming deur die parlement se toergids, wat die wetgewende prosesse, die geskiedenis en die belangrikheid van die gebou se argitektuur verduidelik het.

Vir baie van die seniors was dit hul eerste keer in die parlementskompleks.

“Die besoek was ’n herinnering aan hoe ver ons as ’n land gekom het. Dit is belangrik vir ons seniors om te sien hoe demokrasie werk,” sê Eleanor Francis. “Ons het so baie in hierdie land deurgemaak – van apartheid tot demokrasie, maar om hier te staan op die plek waar wette vandag gemaak word, is ’n gevoel wat meeste van die senior burgers nie kon beskryf nie,” sê Solly Lottering, joernalis en inwoner van Scottsville.

“Die besoek was nie net oor leer nie; dit het ook die seniors ’n gevoel van trots en bemagtiging gegee. Dit is ’n herinnering dat ons almal deel is van iets groter as onsself. Ons stemme maak steeds saak, selfs in ons goue jare.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article