Ontvangers van Sassa-toelaes wat nog nie die ou (geel) Sassa-kaart met ‘n swart kaart van Postbank vervang het (of reëlings getref het dat hul toelae in ‘n ander bankrekening inbetaal word nie) sal steeds hul toelaes in April kan ontvang.
Die ou Sassa-kaart sal egter nie meer na more (20 Maart) werk nie.
Nikki Mbengashe, Postbank se uitvoerende hoof, het Maandag tydens ‘n gesamentlik perskonferensie van Postbank en Sassa gesê net meer as ‘n miljoen mense het teen 10 Maart van die ou Sassa-kaart na die Postbank-kaart omgeskakel.
Ontvangers van toelaes is versoek om nie te probeer om die ou kaart na 20 Maart te gebruik om toegang tot hul geld te kry nie.
“Jou rekeningnommer gaan nie verander nie. Die toelae word steeds in jou rekening inbetaal, maar jy sal nie meer toegang daartoe hê met die goue kaart nie,” het Mbengashe gesê.
Mense wat hul ou Sassa-kaart met die swart Postbank-kaart wil vervang sal dit steeds na 20 Maart kan doen. Tans het Postbank sowat 320 uittreikpunte landswyd, maar volgens Mbengashe word daar daagliks nog plekke bygevoeg.
Diegene wat nog nie ‘n Postbank-kaart bekom het (of gereël het dat hul toelae in ‘n ander bankrekening van hul keuse inbetaal word nie) sal hul toelaes by die naaste poskantoor kan ontvang.
Al wat hiervoor nodig is, is ‘n geldige ID-dokument (groen boekie, ID-kaart of tydelike ID-dokument), het Mbengase gesê.
Tuisbesoeke (van Sassa en Postbank-verteenwoordigers) kan gereël word mits die toelaag-ontvanger aan streng kriteria voldoen. Die minimum kriteria sluit in dat mense bedlêend moet wees. ‘n Doktersbrief, verslag van ‘n maatskaplike werker, of ‘n mediese verslag van ‘n kliniek, word ook vereis.
•Skakel die Sassa-oproepsentrum by 0800 60 10 11 of die Postbank-oproepsentrum by 0800 53 54 55 om tuisbesoeke te reël.