Toelaagontvangers sal nog die ou Sassa-kaart (goue kaart) in April en Mei kan gebruik om toegang tot hul geld te kry.


Ontvangers van maatskaplike toelaes wat nog nie die ou (goue) Sassa-kaart met ‘n swart kaart van Postbank vervang het (of reëlings getref het dat hul toelae in ‘n ander bankrekening inbetaal word nie) is Vrydag gerusgestel dat die ou kaart steeds sal werk om toegang tot hul toelaes in April en Mei te verkry.

Ná ‘n vorige verlenging van die spertyd sou die ou Sassa-kaart op 20 Maart verval het. Diegene wat nog nie na die nuwe kaart oorgeskakel het nie, is vroeër gerus gestel dat hulle toegang tot hul geld ná April se uitbetalings by hul naaste poskantoor sou kon kry, maar kan nou die ou kaart gebruik.

Nikki Mbengashe, Postbank se uitvoerende hoof, het Vrydag op ‘n mediakonferensie bekendgemaak die ou kaart kan tot einde Mei gebruik word, maar ook gemaan dat mense die bykomende twee maande moet benut om die nuwe kaart te bekom.

Sy het gesê die vergunning is spesifiek gemik op diegene wat nog nie tyd gehad het om die nuwe kaart te bekom nie. Die begunstigdes sal hul ou Sassa-kaart op presies dieselfde manier as voorheen kan gebruik, wat insluit onttrekkings by enige bank se outomatiese tellermasjien (OTM), of om kontant te onttrek by winkelkassiere of die kaart te gebruik vir betaling vir aankope by handelaars (ook die wat nie vennote van Postbank is nie).

Toegang

Mbengashe het die hoop uitgespreek dat die vergunning verligting sal bring vir diegene wat bekommerd was oor maklike toegang tot hul toelaes, maar het benadruk hulle moet wel die kaart gebruik en nie na ‘n poskantoor gaan nie.

Diegene wat nog ‘n ou Sassa-kaart het, sal nie by die poskantore gehelp word nie. Die uitsondering is Mzanzi Flexi-kaarthouers en asielsoekers wat voorheen reeds toegang tot hul toelaes deur die poskantoor gehad het asook mense wat hul ou kaart verloor het, wat steeds by die poskantoor oor die toonbank onttrekkings sal kan doen, het Mbangashe uitgewys.

Postbank sal ná Mei steeds voortgaan om die nuwe swart Postbank-kaarte uit te reik aan diegene wat nog nie omgeskakel het nie, maar mense wat dan (ná 30 Mei) steeds nie ‘n nuwe kaart het nie, sal nie toegang tot hul geld hê nie. Die geld sal steeds in die toelaagontvanger se rekening inbetaal word, maar hulle sal eers toegang verkry wanneer ‘n nuwe kaart uitgereik is.

Volgens Mbengashe het Postbank nou 355 punte landswyd en is daar ook genoegsame punte in die Wes-Kaap.

• Skakel *120*355# van ‘n selfoon om die naaste Postbank-dienspunt (by sekere takke van Checkers, Shoprite, Pick n Pay, Boxer, Usave en Spar) te vind.

You need to be Logged In to leave a comment.