Sassa-frustrasie: Verwarde inwoners wag tevergeefs in Sarepta

Met die ou (goue) Sassa-kaarte wat binnekort verval en toustanery by ooglopend te min plekke waar die nuwe (swart) Postbank- kaart bekom kan word, het heelwat mense verlede week hoopvol by die Nuwe Apostoliese-kerk (NAC) in Sarepta opgedaag.


Met die ou (goue) Sassa-kaarte wat binnekort verval en toustanery by ooglopend te min plekke waar die nuwe (swart) Postbank- kaart bekom kan word, het heelwat mense verlede week hoopvol by die Nuwe Apostoliese-kerk (NAC) in Sarepta opgedaag.

Wouter de Vos, wyksraadslid het voorverlede week – vóór die spertyd na 20 Maart verleng is – ’n boodskap op sosiale netwerke uitgestuur dat Sassa (Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap) op Dinsdag 18 Februarie om 08:00 by die kerk sou wees om inwoners by te staan.

Ontvangers van maatskaplike toelaes, waaronder bejaardes en gestremdes of hul familielede, het die oggend reeds voor daglig opgedaag, maar die hoop om geholpe te raak het vir vele beskaam.

’n Bejaarde inwoner (81) het TygerBurger omstreeks 10:30 die oggend geskakel. Hy het vertel hy was reeds voor 08:00 in die lyn, maar toe daar teen 10:00 nog niemand van Sassa opgedaag het nie, is hy huis toe.

Met TygerBurger se aankoms rondom 11:00 was daar nie meer ’n tou buite die gebou nie, maar binne die kerk was heelwat mense.

Verteenwoordigers van twee diensverskaffers (FNB en EasyPay) was aanwesig om vir nuwe kliënte bankrekeninge oop te maak en die nodige bevestiging van ’n bankrekening te verskaf wat aan Sassa besorg moet word sodat die toelae direk in ’n ontvanger se rekening inbetaal kan word.

Die ma van ’n gestremde dogter wat anoniem wou bly, het vertel dat sy en haar dogter saam met haar buurvrou, wat haar ma gebring het, gekom het.

“Ons was 03:10 hier, voor enigeen.”

“Sassa sou 08:00 hier wees. Niemand het opgedaag nie; toe is dit later 10:00. Sassa het nooit gekom nie.”

Sy het gesê De Vos was van vroeg af daar. “Hy het almal se copies (van ID’s) wat nog nie gesertifiseer wat nie, gesertifiseer. Hy het mense gehelp. Daar is vir hom gevra hoe laat Sassa kom? Hy het gesê hy weet nie; hy wag ook maar.”

Sy het gesê dit sou beter gewees het as vroeër aan die mense verduidelik is dat Sassa nie gaan kom nie.

“Dit is oumense; ek dink nie dit is reg nie. Dit maak mense moeilik.”

Haar vriendin het ’n dag verlof ingesit om haar ma te kon bring, het sy vertel.

Misverstand

De Vos het gesê hy het vooraf verstaan dat Sassa teenwoordig sou wees om vorms te ontvang.

“Ek was verkeerdelik onder die indruk dat die dame met wie ek gepraat het van Sassa was. Ek wou net so vinnig as moontlik ’n geleentheid reël dat ons mense nie sonder hul toelaes sit nie.”

De Vos het rondom 12:00 die mense toegespreek, nadat ’n amptenaar van Sassa, wat deur iemand van die kerk versoek is om te kom, opgedaag het.

De Vos het gesê hy wou iets goeds doen omdat hy gesien het daar is, veral onder die ouer inwoners, kommer rakende die omskakeling na die swart kaart.

“Ek gaan nie vinger wys na enigeen nie. Ek aanvaar verantwoordelikheid vir die misverstand dat Sassa vandag hier sou wees. Dit was eerlikwaar hoe ek dit verstaan het, dat dit oor Sassa-toelaes gaan en dat Sassa hier sou wees. Ek het verkeerd verstaan.

“Ek het gedink dit sou gebeur en dit is wat ek gekommunikeer het, maar ek vra om verskoning vir die ongerief, irritasie en woede wat die misverstand veroorsaak het.”

De Vos het gevra dat mense nie die Sassa-amptenaar moet kwalik neem nie, aangesien dit hy (De Vos) was wat verkeerd verstaan het dat Sassa 08:00 sou kom.

Die Sassa-amptenaar is versoek om meer oor die proses van omskakeling te vertel.

Hy het uitgewys dat FNB en EasyPay hul eie entiteite is en “niks met Sassa te doen het nie”.

Die omskakeling van die goue na swart kaart word alleenlik deur Postbank behartig, wat die betalingsagentskap vir Sassa is.

Die plekke waar die omskakeling (uitreik van swart-kaarte) gedoen kan word berus by Postbank – vir die gebied is dit by Shoprite Eersterivier, Shoprite Strand en Usave Bellville, het hy gesê.

Die amptenaar het gesê daar is geen (amptelike) bevestiging vanaf Sassa gegee dat hulle Dinsdag by die geleentheid in Sarepta sou wees nie.

Die eerste vraag vanuit die gehoor was of die omskakeling nie ook by Shoprite Kuilsrivier gedoen kan word nie.

“Die plekke word deur Postbank bedryf en nie deur Sassa nie. So die besluit berus by Postbank,” het die amptenaar geantwoord.

’n Vrou het te kenne gegee dat sy nie verstaan hoe die amptenaar kan sê Postbank tree as agentskap vir Sassa op, maar ook dat Sassa niks met Postbank te doen het nie.

Hy het verduidelik Postbank is net die betalingsagentskap, maar dat Sassa nie kan bepaal waar Postbank teenwoordig is nie.

Die amptenaar het geantwoord dat Postbank en die SA Posdiens wat eens een was, verdeel het en nou twee aparte entiteite is, op ’n vraag hoekom die nuwe kaart nie by poskantore beskikbaar is nie.

Die vrou wat 03:10 opgedaag het, was woedend dat Sassa se logo op die kennisgewing was wat vooraf uitgestuur is. “Óf die raadslid het bedrog gepleeg óf daar is vir ons gelieg. Verduidelik asseblief.”

Die amptenaar het herhaal niks is vooraf met Sassa bevestig nie.

De Vos het geantwoord dat die logo gebruik is om duidelik te wys waaroor die geleentheid gaan – “vir mense wat toelaes ontvang”.

“Dit was die bedoeling, maar ek aanvaar verantwoordelikheid vir die misverstand dat Sassa teenwoordig sou wees.”

Die amptenaar het aangeraai dat mense wat ’n bankrekening oopmaak waarin hul toelae inbetaal kan word, moet seker maak dat al hul name soos op hul identiteitsdokument, ook op die bankbesonderhede verskyn.

“Ons is gekoppel aan die tesourie en hul verifieer die bankbesonderhede.” As alles nie ooreenstem nie, kan dit tot vertragings lei, het hy verduidelik.

“As u die keuse maak van ’n bankbetaling het u nie nodig om die omskakeling te doen na die swart kaart nie.”

Die swart kaart (van Postbank) het soos enige ander bankkaart, ook ’n vervaldatum.

De Vos het afgesluit deur te sê die kerk het uit goeie guns hul perseel beskikbaar gestel en dra geen verantwoordelik vir wat skeefgeloop het nie.

Vorms

Op Vrydag 21 Februarie was twee amptenare van Sassa Eersterivier toe wel by die NAC Sarepta om vorms met mense se bankbesonderhede te ontvang.

TygerBurger het verneem dit is deur die kerk se rektor gereël.

Die amptenare het gesê hulle kon heelwat mense help. Hulle moes egter telkens aan mense verduidelik dat hulle (Sassa) nie die nuwe kaarte kan uitreik nie en dit net deur Postbank gedoen kan word.

Na ’n besoek Donderdag aan Shoprite Eersterivier het Nokuzola Tolashe, minister van maatskaplike ontwikkeling, Vrydag met die uitvoerende raad (provinsiale ministers) in Kaapstad vergader om die probleme rondom die omskakelingsproses te bespreek.

Die tekort en afstand van plekke waar die Postbank-kaart bekom kan word, wat mense se waardigheid aantas, is bespreek.

Jaco Londt, provinsiale minister van maatskaplike ontwikkeling het gesê hy het versoek dat ’n bykomende 49 punte beskikbaar gemaak moet word anders sal dit onmoontlik wees om die 20 Maart sperdatum te haal.

Hy het ook gevra vir beter kommunikasie en die skedule van waar en wanneer Postbank se mobiele eenhede gaan wees.

You need to be Logged In to leave a comment.