SAPD ondersoek beweerde moord op vermiste Malcolm Pather (41) van Richwood naby Bothasig

Malcolm Pather (41)

Die Wes-Kaapse polisie het pas bevestig dat twee mense in verband met die verdwyning en moord op die vermiste Malcolm Pather (41) van Richwood naby Bothasig in hegtenis geneem is.

Pather is vroeër vandeesmaand as vermis aangemeld en TygerBurger het verlede week daaroor berig (“Soektog na vermiste man duur voort”, 23/7).

Die polisie het bevestig dat Pather op Dinsdag 15 Julie deur sy swaer as vermis aangemeld is en dat hy laas op Sondag 13 Julie gesien is toe hy sy woning in sy BMW verlaat het. Inligting oor die vermiste Pather is in die gemeenskap sowel as op sosiale media versprei, waarin die publiek se hulp ook versoek is, sê die provinsiale polisiewoordvoerder kapt. Frederick van Wyk.

Van Wyk het egter vandag (Dinsdag 29 Julie) op navraag bevestig dat twee mense môre (Woensdag 30 Julie) in die Atlantis-landdroshof in verband met Pather se verdwyning en moord sal verskyn.

Dit volg ná ‘n grusame ontdekking naby dié gebied op Maandag 14 Julie toe lede van die Melkbosstrand-polisie die betrokke dag om 01:20 in kennis gestel is van ‘n brandende liggaam agterop ‘n reeds uitgebrande voertuig op die Ou-Mamrepad. Die liggaam van ‘n man, wat onherkenbaar verbrand was, is gevind.

Van Wyk sê alle leidrade is opgevolg op bewysstukke wat op die misdaadstoeneel gevind is, en ‘n moontike persoon van belang is geidentifiseer.

‘n Vrou (39) is Vrydag 25 Julie vir ondervraging ingeneem. Sy is egter kort ná haar inhegtenisneming ná ‘n vermeende selfdoodpoging in ‘n hospitaal opgeneem, sê hy.

Die vrou is steeds in aanhouding. ‘n Tweede verdagte, ‘n 39-jarige man, is Maandag 28 Julie deur speurders verbonde aan die Melkbosstrand-polisie in die Kaapstadse landdroshof in gehegtenis geneem in verband met dieselfde saak, sê Van Wyk. Albei word van moord aangekla.

Van Wyk sê bykomende klagtes sal bygevoeg word ná oorlegpleging met die Nasionale Vervolgingsgesag.

Die nie-regeringsorganisasie The Pink Ladies Org For Missing Children, wat ook pamflette oor Pather se verdwyning gedeel het, het Maandagmiddag ook sy dood aangekondig.

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om die ondersoekbeampte of die Melkbosstrand-polisie se speurders by 072 560 2512 of 082 469 6277 te kontak, of die speurders by die Bothasig-polisie by 064 775 7492.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article