Polisievoertuie staan geparkeer voor die huis in Monte Vista. Credit: Richard Roberts

Die polisie het Dinsdag (28 Oktober) ‘n huis in Baracouta-rylaan, Monte Vista vir leidrade gefynkam nadat twee persone, onder wie ‘n lid van die polisie, hier dood aangetref is.

‘n Man en vrou, albei in hul veertigs, is binne die huis gekry.

Kol. Shawn van Wyk, Goodwood-polisie se stasiebevelvoerder, het op die toneel buitekant die huis aan TygerBurger gesê dat die man en sy vriendin dood is. Hul identiteit kan nog nie bekend gemaak word omdat hul naasbestaandes nog nie in kennis gestel is nie. Die polisie wou ook nog nie bekendmaak by watter polisiestasie die lid werk nie. Van Wyk het gesê die ondersoek is van ‘n sensitiewe aard.

Beamptes van District Watch was ook op die toneel.

Dis nog onduidelik wat tot man en vrou dood gelei het, ook wie die nooddienste gekontak het.

Lede van die Goodwood, Bellville en Bothasig-polisiestasies was op die toneel. Beamptes van die polisie se forensiese-eenheid en misdaad-toneelondersoekspan het ook later by hulle aangesluit.

Beamptes van die plaaslike privaatsekerheidsmaatskappy, District Watch, sowel as lede van die Monte Vista Plattekloof Glen-buurtwag was ook teenwoordig.

Van Wyk sê in die stadium word ‘n dubbele-moord ondersoek.

Polisiebeamptes en buurtwaglede staan buite die huis in Monte Vista.

You need to be Logged In to leave a comment.