Die Wes-Kaapse polisie het bevestig dat ‘n moordsaak ondersoek word nadat die liggaam van ‘n bejaarde onlangs in haar kamer by ‘n tehuis vir bejaardes in Parow gevind is.

Die lyk van die 85-jarige Hannelore Sachse is op Maandag 5 Mei in haar kamer by die St. Johannis Lifestyle Estate in Frans Conradie-rylaan, Parow, gevind.

Sers. Wesley Twigg, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig dat die Parow-polisie ‘n moordsaak ondersoek nadat die bejaarde dood in haar kamer aangetref is.

“Volgens inligting het die slagoffer steekwonde aan haar bors opgedoen. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie,” sê Twigg.

Melanie Foxcroft van MF Consulting is deur die raad en bestuur van die tehuis aangestel om namens die instansie medianavrae te hanteer. Sy wou egter nie verlede week veel oor die voorval of ondersoek uitwei nie.

“Ons kan nie in hierdie stadium enige kommentaar, wat met die ondersoek kan inmeng, lewer nie,” was haar amptelike kommentaar telefonies aan die koerant.

Volgens Foxcroft is die tehuis glo deur die polisie aangeraai om nie enige inligting met die media te deel nie, omdat die ondersoek nog aan die gang is.

Foxcroft kon nie die inwoner se ouderdom bevestig nie, maar het wel bevestig dat die oorledene Hannelore Sachse is.

In ‘n verklaring wat deur die tehuis se raad en bestuur uitgereik is, waarvan TygerBurger ‘n afskrif het, word Sasche se dood bevestig.

Daarin word genoem dat sy deur ‘n personeellid gevind is en dat die aanval glo die dag vantevore reeds plaasgevind het.

“Die omstandighede rondom die aanval word tans deur die polisie ondersoek en geen verdere inligting kan bekendgemaak word nie, buiten dat die polisie vandag (30 Mei), aan ons bevestig het dat Hannelore nie weens natuurlike oorsake oorlede is nie, en dat ‘n moorddossier geopen is, lui ‘n gedeelte uit die verklaring.

Enigiemand met inligting rakende die voorval kan die polisie se Stop Misdaaad-nommer by 08600 10111 skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article