Op Saterdagoggend 24 Februarie het die konvooi van die South African Water Warriors uit Kaapstad vertrek met broodnodige droogtehulp aan die boere en werkers van Loeriesfontein, wat steeds deur die droogte geteister word.
South African Water Warriors is ’n gevestigde nie-winsgewende organisasie wat die boeregesinne en hul werkergesinne seën met nie-bederfbare kospakkies, asook vars groente.
Altesaam 386 gesinne is Saterdag só gehelp, wat vir die gesinne soos manna uit die hemel in hul tyd van nood gekom het. Verder word die boere ook geseën met lusernbale, wat deur die loop van die week vir die boere se kuddes afgelewer is.
Baie groot dankbaarheid het ook geheers by die bestuur van die ouetehuis op Loeriesfontein. Selfs die spens daar, wat eens dolleeg was, se rakke is nou vol gepak.
Daar was selfs genoeg skenkings om die koshuis op die dorp ook te seën.
“Die uitreik was ’n groot sukses en ons is baie dankbaar vir al ons ondersteuners, al die donateurs vir skenkings, asook elkeen wat ons inligting op sosiale media deel vir bewusmaking.
“Die vrywilligers wat elk met hul eie vervoer en op eie koste gehelp het om die donasies te vervoer, is vir ons organisasie goud werd.
“Ons kan op geen manier uitreik en suksesvol hulp verleen sonder die rolspelers nie. Baie dankie,” sê Deon Smit, stigter van die SA Water Warriors.
Volgende uitreiking
“SA Water Warriors werk reeds hard aan die volgende uitreikprojek, wat op Saterdag 27 April na Brandvlei sal wees.
“Daar is egter nie genoeg geld beskikbaar nie en daar word dringend na finansiering gesoek. Hou in gedagte dat SA Water Warriors ’n nie-winsgewende organisasie is wat 18A-sertifikate kan uitreik vir belastingdoeleindes,” sê Smit.
- Skenk nie-bederfbare goedere soos rys, pasta, sojamaalvleis, koffie, Cremora, suiker, meel, koekies, beskuit, konfyt, blikkies kos, mieliemeel, olie en geseëlde kanne vyfliter-water.
- Skoonmaakmiddels en toiletpapier.
Bel Deon Smit by 082 738 2702 met navrae. Inligting is ook beskikbaar op South African Water Warriors se Facebook-blad.


