SA se ‘wonderkind’ haal graad 1

Sy is nie net ‘n vegtertjie nie, maar het by die Carel du Toitsentrum by die hospitaaal ontpop as ‘n ware leier.


Suid-Afrika se sogenaamde “wonderkind” Allegra Lategan (6) van Parklands, Bloubergstrand, begin op Woensdag 17 Januarie haar skoolloopbaan as gr. 1-leerder by die Jan Krielskool in Kuilsrivier – teen álle verwagting in.

Sy is die land se oudste oorlewende mikro-vroeggeborene nadat sy in 2011 op nét 22 weke gebore is. Allegra het slegs ‘n pakkie margarien se waarde – 500g – by geboorte geweeg en sy was net onder 28cm in lengte. 

Allegra Lategan

Niemand het geglo dat sy enige kans op oorlewing sou hê nie, nóg minder dat sy sou kon praat of loop, want sy is met ouditiewe neuropatie gebore. Dít beteken Allegra kon soms sekere klanke hoor, maar kon nie sin daaruit maak nie. Danksy geldinsamelingspogings het sy twee kogleêre inplantings by die Durbanville Medi-Clinic deur ‘n privaat oor- neus- en keel- spesialis ontvang en kan sy vandag nie net hoor en praat nie, maar dié gesonde kleuter huppel die hele wêreld vol. 

Sy is nie net ‘n vegtertjie nie, maar het by die Carel du Toitsentrum op die perseel by Tygerberg-hospitaaal ontpop as ‘n ware leier.

“Allegra was van agt maande tot drie jaar by ouerleiding en van drie jarige ouderdom was sy heeltyds by Carel du Toit in die skool en ek en Hennie, my man, het ouerleiding ontvang oor hoe om ‘n kind met gehoorgestremdheid te hanteer,” vertel haar ma, Chantal Lategan. 

“Danksy die ondersteuning van my hoof [sy was onderwyser] en personeel by die Laerskool Seamount kon ek ná haar geboorte my volle aandag aan haar gee. 

“Ek het intussen bedank uit die onderwys en is nog te betrokke by Allegra; ek is nog nie emosioneel op die regte plek om aandag aan  skoolleerders te gee nie,” sê sy.

Allegra self sê: “Ek is baie opgewonde en bly om groot skool toe te gaan en ek en my juffrou is dieselfde, want ons het albei oor-apparaatjies. In my skoolsak is my kosblik, potlode en penne en van alles van skoolgaan, gaan ek die meeste daarvan hou om buite te speel.”

Volgens Chantal was dit moeilik vir haar en Hennie om te besluit of die tyd nou reg is vir Allegra om skool toe te gaan.

Allegra Lategan gaan skool toe.

“Sy was verlede jaar in gr. R by Carel du Toit en ek en Hennie het baklei vir Allegra om in graad 1 te wees en nie weer graad R nie. Ons onsekerheid was wel of sy in Carel du Toit moet bly of na Jan Kriel toe moet gaan. Ons het dit ‘n gebedsaak gemaak. Nadat ons gehoor het sy is aanvaar by die nuwe skool glo ons en is ons oortuig dat Jan Krielskool die regte skool vir haar en haar spesifieke behoeftes is. 

“Einde November het ons haar by die skool gaan inskryf en ons glo dit is die regte besluit om haar nou skool toe te stuur. Tydens die inskrywing by die skool, het ons hulle oor haar agtergrond ingelig,” vertel Chantal. 

“Vir my en Allegra gaan dit nou ‘n nuwe aanpassing wees, maar ek het ‘n goeie ondersteuningstelsel van my ouers en man om ook hierdie bultjie uit te klim. As ek vandag na haar kyk, kan ek net die Here dank vir sy genade.”

Volgens haar kan sy ook nie genoeg dankie sê vir almal wat ‘n bydra gelewer het om Allegra te kry tot waar sy vandag is.  Allegra ontvang ook spraakterapie by die Panorama Mediese Sentrum om haar verder te help.

Allegra is lief vir die buitelewe, hou van musiek, diere en televisieprogramme soos Mr Bean en die Minions. 

“Onder die mense met vroeggebore babas staan die 17de November bekend as internasionale Preemiedag en dan dra die kinders pers,’ het Chantal gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.