Organisasies sonder winsbejag (non-profit organisations of NPO) speel ’n noodsaaklike rol in die bevordering van voorspoedige gemeenskappe. Daarom het Solidariteit Helpende Hand verlede Woensdag 27 Februarie aan dié onbesonge helde op Wêreld-NPO-dag hulde gebring.
’n Interessante program is saamgestel en by Residentia Boland in Bellville aangebied. Verteenwoordigers van verskeie organisasie het dit bygewoon om by die dag se sprekers te leer.
Sprekers deel insig
Sprekers soos Sallvon Fransman van die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling, en ander soos Annelise de Jager, Dané Kotze en Johan Laten het praatjies gelewer.
Sallvon het uitgewei oor die aard van die NPO-bedryf en faktore wat tot hul volhoubare welstand bydra.
“NPO’s onderneem die moeilike taak, veral onder die drukkende omstandighede, om steeds hul missie te voltooi, maak nie saak hoe moeilik dit gaan nie. Dié organisasies is dus afhanklik aan etiese leierskapspraktyke, terwyl organisasies ook die verantwoordelikheid neem om te verseker dat alle finansiering van ’n wettige en etiese bron is,” het hy gedeel.
De Jager, die skepper van legendariese Suid-Afrikaanse fondsinsamelings soos Loslitdag sowel as Tekkie Tax, het die gehoor meegevoer oor die onderwerp: “Boublokke om die welstand van jou organisasie te verseker.”
Sy het vertel oor haar loopbaan en hoe sy broodnodige finansiering vir organisasies gegenereer het, asook maniere waarop organisasies se volhoubaarheid opgeskerp is.
“Ek het jare lank miljoene rande ingesamel. Maar nou is dit my missie om organisasies met die kennis te bemagtig om nóg meer miljoene in te samel,” het De Jager gesê.
‘Vul gapings in dienste’
“Hierdie organisasies vul noodsaaklike gapings in dienste, tree in vir kwesbare bevolkings en reageer op krisisse waar regerings dikwels nie kan of wil optree nie. Hul werk verseker dat humanitêre hulp, gesondheidsorg, opvoeding en ekonomiese geleenthede diegene bereik wat dit die nodigste het,” sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand.
Noëth sê in Suid-Afrika speel NPO’s ’n deurslaggewende rol in die oorbrugging van gapings in onder meer opvoeding, gesondheidsorg, maatskaplike kwessies en armoedeverligting.
“Wêreld-NPO-dag dien as ’n globale platform om die toewyding en impak van hierdie organisasies te erken. Dit is ’n dag om hul verbintenis te waardeer, hul stemme te versterk en openbare en private vennootskappe aan te moedig om hul pogings te ondersteun,” sê hy.
Een van die grootste uitdagings waardeur Suid-Afrikaanse NPO’s in die gesig gestaar word, is finansiering. Baie is afhanklik van donasies en toekennings, wat dikwels wisselvallig is. Ten spyte hiervan dryf hul veerkragtigheid en innovasie steeds positiewe verandering.
Maatskaplike krisis
Noëth waarsku egter dat Suid-Afrika nie net deur ’n ekonomiese of infrastruktuurkrisis in die gesig gestaar word nie, maar ook ’n massiewe maatskaplike krisis.
“Ons is bekommerd oor krag, water en misdaad, maar ons maak te min van die maatskaplike nood wat net vererger.
“As die regering nie sy plig nakom om noodsaaklike dienste aan die kwesbaarste groepe te lewer nie, is dit die gemeenskapsorganisasies wat daardie gapings moet oorbrug – en hulle kan dit nie alleen doen nie.”
Volgens Noëth is dit belangrik dat Suid-Afrikaners mekaar ondersteun en die regte van kinders, bejaardes, mense met gestremdhede en individue wat sukkel met verslawing beskerm.
“Rehabilitasie en die versterking van gemeenskappe is die enigste manier om ’n stabiele, veilige samelewing te bou. Daarom moet ons almal gemeenskapsorganisasies ondersteun en die regering aanhou druk om sy wetlike pligte na te kom waar nodig,” sê hy.


