Vullisdromme het amper ’n week lank in dié Brackenfellse straat gestaan voordat dit verwyder is.


Inwoners van Brinkstraat in Brackenfell is voorverlede week deur die Stad Kaapstad aangesê om self hul vullis na die stortingsterrein toe aan te ry nadat dit vir bykans ’n week in die straat moes staan.

Anton Groenewald vertel dat hul vullis gewoonlik op Dinsdae verwyder word.

“Die vullistrok het by Brinkstraat 13 gestop en toe regs afgedraai en toe nooit die res van die straat se vullis kom verwyder nie. Woensdag het ek die munisipaliteit geskakel en dit is aan my meegedeel dat die probleem ná drie dae uitgesorteer sal wees. Nadat dit drie dae later nog nie verwyder is nie, het ek weer geskakel en daar is toe vir my gesê dat ek self die vullis by ’n stortingsterrein moet gaan leegmaak.

“Hoe so? Nou moet ons betaal vir ’n diens wat nie gelewer word nie,” sê hy.

Volgens Groenewald het die vullisdromme wat so lank buite in die straat moes staan, ’n nare stank tot gevolg gehad.

“By ’n vorige geleentheid het die trok ook nie die vullis verwyder nie en eers nadat ek geskakel het, is dit verwyder.”

Verskoning

By navraag het die Stad Kaapstad se departement van stedelike afval vir die inwoners om verskoning gevra waar vullis nie verwyder is nie.

Hulle is ook jammer oor die reaksie wat Groenewald by die Stad se inbelsentrum ervaar het.

“Agente by die inbelsentrum is opgelei om inwoners te adviseer dat slegs indien die onafgehaalde vullis ’n gesondheidsrisiko inhou, dit na die stortingsterreine geneem kan word, aangesien dit ’n beter opsie is. Indien ’n inwoner buite dié konteks aangeraai is om self vullis na ’n stortingsterrein te neem, word dit opreg betreur.

“Die Stad is ernstig daaroor om ’n hoë standaard van dienslewering te handhaaf en ons poog om dit te verbeter, daarom verwelkom ons die terugvoering wat ons van ons inwoners ontvang,” sê ’n woordvoerder.

Die Stad versoek inwoners om hul vullisdromme tot 21:00 in die aand buite te los omdat spanne later as gewoonlik werk om agterstande te voorkom terwyl uitdagings in terme van hulpbronne opgelos word.

In gevalle waar vullis nie volgens skedule verwyder word nie, moet inwoners hul dromme elke dag uitstoot totdat dit leeggemaak word.

You need to be Logged In to leave a comment.