Allistair Begg, een van die lojale personeellede van die Ruyterwacht Senior Sentrum, het op Dinsdag 14 Oktober aan die Wêreld Kragoptel-kompetisie deelgeneem wat by die Protea Hotel Fire and Ice plaasgevind het.
Dit kom nadat Elsiesrivier se eie Allistair Begg tussen 27 en 30 Maart geskiedenis gemaak het toe hy aan die Suid-Afrikaanse Kragoptel-kampioenskap in Potchefstroom deelgeneem en met die eerste plek in die Meesters-1 o.74 kg-afdeling weggestap het. Boonop het hy by die nasionale byeenkoms ook ‘n Suid-Afrikaanse rekord opgestel.
Vir Allistair was hierdie deelname die vervulling van ’n droom – om op ’n internasionale vlak teen deelnemers van verskeie lande mee te ding. “Toe die nuus die sentrum bereik het dat hy gekwalifiseer het, het opgewondenheid en trots deur die gange van die sentrum weerklink,” vertel Nanda Brits, bestuurder van Ruyterwacht Senior Sentrum.
Om hom te ondersteun, het die bestuur en lede van die sentrum ’n fondsinsamelingsveldtog van stapel gestuur om hom finansieel by te staan. Die geld is met groot vreugde aan hom oorhandig kort voor sy deelname.
“Allistair het die lede en bestuur ongelooflik trots gemaak. Hy is ’n inspirasie vir ons almal – ’n bewys dat waar daar ’n wil is, daar ’n weg is! Baie trots op jou, Allistair,” sê Nanda Brits.
Die sentrum wens hom alles van die beste toe met sy toekomstige deelnames en glo dat sy deursettingsvermoë en toewyding nog baie hoogtepunte sal bring.


