RUBRIEK | Wat die hart van vol is: ’n Loutere skande in Frankryk

Die eerste ronde wedstryde van die Rugby-wêreldbekertoernooi is agter die blad.


Die eerste ronde wedstryde van die Rugby-wêreldbekertoernooi is agter die blad.

Die meeste spanne het nou reeds kans gekry om te speel en om te sien of dit waaraan hulle die afgelope vier jaar gewerk het, goed genoeg is.

Vrydagaand se openingseremonie was ietwat van ’n teleurstelling.

In ’n stadium het ek gedink dit herinner baie aan ’n saamgeflansde skoolkonsert. Vir ’n sogenaamde “eerstewêreldland” was dit darem te slordig en het dit baie “low budget” gelyk.

Toe die een man eers begin rugby-bewegings met brode uitvoer, het ek geweet dit gaan net erger raak. Die “Eiffeltoring” van karton was seker die snaaksste ding wat ek in ’n lang tyd gesien het.

Vir julle wat nie weet nie, Frankryk bied die toernooi aan nadat Suid-Afrika die voorkeurkandidaat was. Ja, ’n onafhanklike komitee het aanbeveel dat Mzansi die toernooi aanbied.

Skielik toe daar gestem word, wen Frankryk die bod.

Iemand het een keer gesê dis nie so seer om in die rug gesteek te word nie, maar die pyn kom wanneer jy omkyk en sien wie die mes vashou.

Toe Suid-Afrika omkyk, sien hulle een van hul naaste broers het teen hulle gestem.

Rugby Afrika, wie se kantore in daardie stadium (ek is nie seker of hulle nog daar is nie) in die Suid-Afrikaanse Rugbyunie se kantore in Plattekloof gesit het, het teen Suid-Afrika gestem. Ons eie Afrika-broers.

Ek beweer niks, maar Rugby Afrika (ons is nie deel van hulle nie, want ons is mos nie deel van Afrika nie) bied deesdae ’n geldgenererende toernooi in Frankryk aan.

Intussen is die uitvoerende hoof van die 2023-toernooi, Claude Atcher, weggejaag. Die hoof van die Franse Rugbyunie, Bernard Laporte, is aan bedrog skuldig bevind en het ’n opgeskorte vonnis ontvang. Hy was ook ten tyde van sy wandade ’n dikding by Wêreldrugby, die organisasie wat rugby beheer.

Ek gee julle hierdie inligting, maar ek beweer niks nie. Die Franse bied die toernooi aan omdat hulle die beste kandidaat was.

Volgens die beelde wat ons in Jan Tuisbly se motortjie uit Frankryk kry, is dit lekker jolig en almal wat daar is, geniet hulle. Maar die afgelope Sondag het iets aardskuddend gebeur. Die stadion waar die Springbokke teen Skotland gespeel het, se bier het opgeraak! Terwyl die wedstryd nog aan was.

Duisende Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon was daar, maar nog meer het gevlieg het om te sien hoe die Bokke hul beker verdedig. Nou as jy ’n Suid-Afrikaner is, is die ergste ding wat met jou kan gebeur dat die dop gedurende die wedstryd opraak.

Ek sal Frankryk vir baie dinge vergewe: Dat hulle ons verlede jaar geklop het, dat hulle ons beste spelers ten duurste aankoop en vir hul klubs laat speel, dat hulle ons verhoed om die woord sjampanje te gebruik, dat hulle amper ons rooibostee gesteel het en dat hulle “ons” wêreldbeker aanbied.

Maar as ’n trotse Suid-Afrikaner met groen bloed in my are, kan ek hulle nooit vergewe dat hulle nie genoeg bier by die stadions het nie. Dit is ’n loutere skande. Sies! – Brenden Ruiter

You need to be Logged In to leave a comment.