Ek is geneig om wanneer ek iets snaaks sien, te vra: Hoe het ek hier beland?

En met hier bedoel ek op aarde en veral in Suid-Afrika. Hier is so baie dinge verkeerd in hierdie veelbewoë land van ons, maar ons vind altyd êrens die humor.

Ek sweer as ’n alien nou hier op aarde land, gaan hy uitbars van die lag, of in trane uitbars. Só is Suid-Afrika se huidige toestand dat ’n mens se emosies wissel tussen ernstige lagbuie of trane van frustrasie en hopeloosheid.

Op ’n daaglikse basis sien ’n mens goed wat jou laat uitroep; “Hoe de hel het ek hier beland?”

Maar ons Saffas is al so gewoond aan die swart komedie van ’n land waarin ons rolle vertolk, dat ons soms net uitbars van die lag.

Iewers in die Kaap was ’n verkeerslig so lank buite werking, die inwoners het besluit om vir dit ’n verjaarsdagkoek te bak.

Op Facebook sien ek iemand wat blomme in slaggate in die pad plant.

Langs Hindleweg verkoop ’n ou vis en op sy bemarkingsbord staan in groot letters geskryf: “Sexy snoek!”

So ’n ruk gelede word daar ’n rugbywedstryd uitgesaai en die krag slaan in die middel van wedstryd af. Die kommentators skree: “Load-shedding!”

So van die kommentators gepraat, dit is vir my verblydend hoe Suid-Afrikaners van alle rasse reageer op die energie van die Xhosa-kommentators.

Hoewel Suid-Afrika nog al die jare oor briljante uitsaaiers beskik het, bring die Xhosa-stemme ’n nuwe gees na ons geliefde nasionale sport.

Hulle het ook nuwe byname vir ons spelers bedink. Byname soos Spicy Plum (Steven Kitshoff), Wrong Turn (Kwagga Smith) en Bud Spencer (Frans Malherbe) rol deesdae al te lekker uit die volksmond.

Ons as nasie het dit so baie nodig om te lag sodat ons kan vergeet van beurtkrag, wetteloosheid, geslagsgeweld en al die ander sosiale euwels waarmee ons daagliks worstel. As mens die nuusblaaie oopmaak of die televisie of radio aanskakel, is daar oorheersend net negatiewe nuus.

Jy moet amper met ’n fynkam deur die dag se gebeure soek om enigiets positief te vind. Maar soms, wanneer jy net rondom jou kyk in jou daaglikse lewe, sal jy maklik iets vind om oor te lag.

My buurvrou stuur my onlangs ’n video van hul blinde seun, wat voor my grootgeword het, wat die klavier met soveel grasie speel dat ek eers ’n traan wou gooi, maar onwillekeurig begin glimlag het. Die tragedie van hoe hy blind geword het, het sommer verdwyn en ek kon bars van trots dat sy blindheid hom nie definieer nie.

En daar is so baie voorbeelde van hoe ons geluk kan put ten spyte van ons omstandighede – die glimlag van ’n kind wat onbevange rondhardloop en speel; die uitbundigheid van ’n groep voëls in die boom voor my huis, wat aankondig dat die winter uiteindelik verby is. Tuine wat uit hul nate bars van groen en ander kleure ná al die mildelike reën.

Maar ek is seker julle sal met my saamstem dat ons almal hoop dat ons op Saterdag 28 Oktober weer gesamentlik as ’n nasie sal glimlag as die Springbokke dalk weer die William Webb Ellis-trofee omhoog hou. – Brenden Ruiter

You need to be Logged In to leave a comment.