Ons as mense is tog so verskillend.
Ek stap nou die dag die kantoor binne en sê ewe ongeërg “o, maar dit stoffies darem lekker hier buite”.
En ’n paar van my kollegas kyk my heel verward aan en vra wat beteken stoffies? Ek ek sê weer, stoffies, dit reën so liggies man, en ek wil half vra waar bly julle dat julle nie weet wat stoffies beteken nie? Elkeen kom toe met hul “o, jy bedoel motreën”.
Die ander keer weer toe sê ek “kaantie” en toe wil my een kollega ook weet wat beteken “kaantie” en toe moet ek eers stilstaan en lank dink hoe verduidelik ek nou wat “kaantie” beteken.
En ek sê vir haar dis wanneer jy dink jy een resultaat gaan kry, maar dan kom dit heel anders uit, soos byvoorbeeld, “sy het gedink hulle is in ’n verhouding; ‘kaantie’ (intussen) is die man in ’n verhouding met iemand anders”.
Maar ek dwaal af. Ek kom tot die besef hoe divers Suid-Afrika is, ongeag alles waardeur ons as ’n land in die gesig gestaar word.
Ek met my Noord-Kaapse oorsprong en ’n diep Kaapse opbrengs werk nou met mense van onder meer Noordwes en Gauteng, en amper elke ander dag besef ons hoe verskillend ons praat en dinge verstaan.
Soos, ek sal miskien sê my familie is baie “ongereken” – weer eens moes ek ’n verduideliking gee, wat my ’n tydjie geneem het om by uit te kom.
My kollega van Namakwaland het natuurlik geweet waarvan ek praat. Maar die ander nie. “Hulle is uit die wil uit,” sê ek toe, by gebrek aan ’n beter idee.
Maar ek is mal daaroor, dit leer my meer oor myself en hoe ek praat, en hoekom ek so praat; dit is deel van my identiteit en dit wys waar ek vandaan kom en waar ek nou is – wie ek is, en my komvandaan.
Die lae van dit wat my identiteit vorm, kom amper elke dag na vore, en elke dag se ontdekking maak my so opgewonde oor dit wat ek dalk weer oor ’n paar jaar in ’n ander tyd van my lewe gaan ontdek.
Hoe kimbies ook nappies is.
Ons raak so gewoond aan hoe ons goed doen, en dinge sê of praat, en neem dit as vanselfsprekend, maar dan kom ontmoet jy mense buite jou ras, geloof en oortuigings en ’n hele ander wêreld gaan oop, maar nie net van wat jy van ander leer nie, maar soveel meer oor wat jy van jouself leer.
Ek hou van hoe ek praat; ek hou daarvan dat ek dinge anders as ander mense ervaar.
Dit sou nie moontlik gewees het as ek nie in ons diverse land gebore is en grootgeword het nie.
Daar is ’n gesegde wat lui “same, same, but different” en in ons land se konteks kan dit uit verband geruk word, maar as jy kies om na die mooi te kyk, is dit eintlik bitter mooi.
Soms het ’n mens net nodig om uit jou gemaksone uit te beweeg om te sien hoe ander lewe en praat en dinge doen.
Ek het net begin werk, en daar is alreeds so baie wat ek geleer het van hoe ander mense grootgemaak is teenoor hoe ek grootgemaak is.
En ná hierdie ontdekkings kan ons xhouskrou-lag (’n woord wat van my kollegas ook nie sal verstaan nie), want ons is ’n reënboognasie so diep onder alles wat daardie prentjie wil verdoesel.

