“Mamma, het jy al briewe van die hoërskole gekry?”

Die gretigheid in my seun se stem maak my effe angstig. Dis skaars ’n week sedert die hoërskool-aansoeke gesluit het.

Ek sien hoe sak sy gemoed toe ek hom dit meedeel, want, verduidelik hy, kinders in sy klas het al aanvaardingsbriewe ontvang – dis skool nommer twee op sy lys.

Soos ons daaroor gesels blyk dit dat elkeen van daardie kinders A-span speel in een of ander skoolsport. Dit klop, en hoewel die Wes-Kaapse onderwysdepartement se bevestigingsbrief dit duidelik maak dat skole eers op of ná 29 Mei hul besluit sal kommunikeer, maak dit my nie minder paniekbevange nie. Hierdie is immers nie my eerste rendezvous met hoërskoolaansoeke nie.

Die realiteit is daar is nie meer genoeg skole in die omgewing vir die aantal kinders wat hier woon nie. Ten spyte daarvan het meeste van hierdie uiters gewilde (soos meer as 2 000 aansoeke kan getuig), oorvol skole keuringsbeleide wat voorkeur gee aan die beste van die bestes op die sportveld en dan die slimste van die slimstes. So ook bied baie van hierdie oorvol skole beurse aan sportsterre wat nie eens in hul direkte of selfs indirekte voedingsgebiede woon nie.

’n Familielid, wie se kind dieselfde ouderdom as myne is, is verlede jaar reeds langs die sportveld genader – die skool se scouts wou net seker maak hulle gaan wel vanjaar dáár aansoek doen. Teen die tyd wat die aansoeke gesluit het, is hulle reeds verskeie beurse aangebied deur verskeie plaaslike, sowel as plattelandse skole.

Uit die vier skole waar ons aansoek gedoen het, volg skool nommer een die onderwysdepartement se proses (gelukkig) tot die uiterste – jy doen aansoek op die sisteem en hul keuringsbeleid word noukeurig op die hele lys toegepas.

Die ander drie skole vereis egter ook dat ekstra inligtingsvorms voltooi word – “sodat hulle jou kind beter kan leer ken”.

Eers verklap jy jou familiegeskiedenis en jou inkomste, dan tiek jy boksies vir elke liewe skoolsport en kultuuritem waarby jou kind betrokke is, en nog meer belangrik, in presteer. Hulle stel egter nie noodwendig belang in sport wat buite die skool beoefen word nie, al neem hy op internasionale vlak deel. Nog minder het een van die drie skole ’n boksie vir robotika, die buitemuurseprogram wat hy wel in belangstel en by betrokke is.

So kom 29 Mei en seunlief is aanvaar by twee skole – nommer een (hoera!) én drie.

Hierdie ma is verlig … maar ’n maatjie se mamma is verpletter. Haar kind is nêrens aanvaar nie. Ek probeer haar gerusstel; daar gaan immers plekke oopgaan waar kinders by meer as een skool aanvaar is, maar dis makliker gesê as gedaan.

Ek weet presies hoe sy voel. Vier jaar gelede was ek self daar – 95ste en 105de op die waglyste by skole nommer een en twee (albei hierdie skole bied egter beurse aan sportsterre). By een skool het die sekretaresse, toe ek vorms in die hand daar instap ’n paar dae vóór die sluitingsdatum vir aansoeke, my meegedeel hulle “aansoekproses is eintlik reeds afgehandel”.

Ons het my oudste uiteindelik by ’n aanlyn skool ingeskryf. Toe hy vir gr. 10 vakkeuses moes maak, probeer ons weer, maar die antwoord bly “ons is oorvol”.

Is die skole werklik oorvol, of sou die antwoord anders wees as hy die A-span boksie kon tiek?

Aanlyn skool is ook nie vir almal nie. Waarheen gaan kinders wat nie die “regte” boksies tiek nie, maar steeds onderrig by ’n goeie skool wil hê?

You need to be Logged In to leave a comment.