Die harde, skril gille van ’n vrou van Durbanville verlede Woensdagnag toe sy in ’n stoeiery met ’n huisrower in haar woonstel betrokke was, het waarskynlik daartoe bygedra dat die twee rowers die hasepad gekies het.
Ek onthou net ek het heeltyd hard gegil.
Anonieme slagoffer
Die vrou in haar laat veertigerjare, wat verkies om anoniem te bly, was kort na middernag in haar woonstel op die eerste verdieping van Cambridge House in Oxfordstraat.
Sy het die balkondeur oopgemaak om buite op haar balkon ’n glas wyn te gaan sit en drink. Sy het die glas wyn gaan haal en toe sy terugdraai om uit te gaan, het die twee onbekende mans reeds in haar woonstel gestaan, het sy vertel.
Sy het met die een in ’n stoeiery betrokke geraak. Volgens kapt. Marchell Rhode het sy die man met haar glas wyn probeer slaan. Die ander rower het die huis deurgegaan en ’n DVD-speler met afstandbeheerders, ’n skootrekenaar, haar handsak en selfoon gegryp.
“Ek onthou net ek het heeltyd hard gegil. Van die ander mense in ons kompleks het in die binnehof uitgekom.”
Dis toe dat die twee rowers weer by die balkondeur uit vlug.
“Die een het die handsak laat val. Een se hoodie het aan die staalpenne van die hek waaroor hulle gespring het, vasgehaak,” het sy vertel.
Die rowers het vermoedelik toegang oor dié hek in ’n aanliggende eiendom verkry en met ’n pyp of boom tot op die eerste verdieping geklim. “Die polisie het ’n stuk metaalpyp en gholfstok op my balkon gevind. Wie weet wat kon gebeur het?” het sy gesê.
Dis na bewering juis die einste hoodie wat die polisie op die spoor van een van die verdagtes, wat glo gereeld met die gereg bots, gesit het.
“Hy (die polisiebeampte) het gesê hy weet wie se
hoodie dit is,” het die vrou gesê.
Volgens Rhode is een van die verdagtes, ’n 27-jarige man van Morningstar, later in Sportsweg opgemerk deur polisielede wat besig was met patrolliediens.
Die verdagte het weggehardloop, maar die polisielede het hom aangekeer. Hulle het die vrou se selfoon by hom gekry en hom vir die besit van gesteelde goedere in hegtenis geneem.
Die mense met die balkonne moet bewus wees daarvan dat hulle meer kwesbaar is en moet hul deure gesluit hou
Don Bedford
Die ander verdagte (18) is die volgende dag (Vrydag) by sy ma se huis in Fisantekraal opgespoor en in hegtenis geneem. Die DVD-speler is Sondagoggend by die polisie ingehandig nadat daar glo gepoog is om dit in die dorp te verkoop.
Die skootrekenaar word egter steeds vermis. Die waarde van die gesteelde items beloop sowat R12 000.
Die verdagtes het Maandag (gister) in die Bellville-landdroshof in verband met die saak verskyn. Geen borgtog is toegestaan nie en die saak is uitgestel tot komende Maandag.
Die saak sal vermoedelik dan eers uitgestel word vir ’n formele borgtogaansoek.
Dié voorval kom slegs sowat twee maande nadat drie mans op 20 Augustus omstreeks 01:40 by ’n woonstel in Cambridge House ingebreek het. Dit is onbekend hoe die mans toegang verkry het. Hulle is op videomateriaal vasgelê.
Twee skootrekenaars, ’n selfoon, kontant en ’n beursie is toe gesteel.
Don Bedford, waarnemende voorsitter van die beheerliggaam van Cambridge House, het gesê hulle ondersoek stappe om die kompleks verder te beveilig.
Volgens hom sal lede van die beheerliggaam vandag (Dinsdag) met ’n verteenwoordiger van ’n sekerheidsfirma vergader om te kyk na gepaste metodes.
“Ons kompleks is nie ’n sekerheidskompleks nie, maar ons probeer om dit te beveilig en sal doen wat daar gedoen moet word.
“Die mense met die balkonne moet bewus wees daarvan dat hulle meer kwesbaar is en moet hul deure gesluit hou,” het hy gesê.
Daar is ’n fyn balans om sekerheid op te skerp en om die estetiese voorkoms van die kompleks te behou, het hy gesê.