Ses gewapende mans is op vrye voet nadat hulle na bewering vanoggend (1 Februarie) R4,1miljoen geroof het by ’n plaaslike winkelsentrum.
Volgens ‘n polisiebeampte, wat anoniem wou bly, is die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) se pensioengeld en ander toelaes by die Shoprite-winkelsentrum in Parow geroof.
Kapt. André Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, wou nie die bedrag of die naam van die winkelsentrum bevestig nie.
Hy gaan egter voort: “Ons kan wel die insident bevestig. Ses gewapende mans het kort na 07:00 die Sassa-werknemers by ’n kruidenierswarewinkel in ’n winkelsentrum in Parow met hul vuurwapens gedreig en hulle beroof. Hulle het daarna in ’n Toyota Quantum met ’n onbekende bedrag geld gevlug.
Sassa betaal toelaes in kontant by spesifieke betaalpunte op ’n spesifieke dag, en Shoprite is een van hierdie betaalpunte.