Drie vermeende inbrekers is binne ’n halfuur deur lede van verskeie buurtwagte vasgetrek, nadat hulle gisteraand (20 April) by ’n huis in Proteahoogte in Brackenfell probeer inbreek het.

’n Inwoner het om 19:45 haar bure se honde hoor blaf.

“Toe sy ondersoek instel het sy drie mans uit haar buurman se huis sien hardloop. Hulle het die huis se voordeur oopgebreek maar weggehardloop toe die honde begin blaf. Hulle het in ’n rooi Hyundau Getz ingespring en weggejaag,” sê kapt. Erica Crous, ’n polisiewoordvoerder.

Die buurvrou het dadelik verskeie buurtwagte in kennis gestel wat saam met verskeie private sekerheidsvoertuie reageer het.

“Die verdagtes is agternagesit tot in Amandelweg in Kuilsrivier war hulle deur lede van nog ’n buurtwag geblok is,” sê Crous.

Die drie mans het uitgespring en weggehardloop, maar is spoedig platgetrek deur verskeie buurtwaglede wat hulle te voet agterna gesit het.

Verskeie stukke gereedskap wat gebruik word in huisbrake is in die voertuig gevind en die mans is verbind met twee ander kriminele sake in Kaapstad en Bellville-Suid.

Die drie mans van Delft is aan die Kuilsrivier-polisie oorhandig en sal Maandag in die landroshof in Kuilsrivier verskyn op aanklagte van huisbraak.

You need to be Logged In to leave a comment.