Rowers laat spat sonder vuurwapen ná roof

Twee minderjariges het vanmiddag (Dinsdag) ’n man in Ruyterwacht beroof, maar hul vuurwapen agtergelaat – wat tot groot konsternasie in dié dorp gelei het.


Twee minderjariges het vanmiddag (Dinsdag) ’n man in Ruyterwacht beroof, maar hul vuurwapen agtergelaat – wat tot groot konsternasie in dié dorp gelei het.

Die minderjariges het weggehardloop en die vuurwapen in Aliwalstraat agtergelaat.

Met TygerBurger se besoek aan die toneel op Dinsdag om 14:00 was die polisie ook nog op die toneel en het hulle die gebied afgesper.

Die gemeenskap het die rowers begin soek en die twee minderjariges vasgetrek, wat op hul fiets gevlug het.

Die slagoffer, Bradley Ockhuis, sê die twee het hom met die vuurwapen en ‘n mes gedreig.

“Ek het op my foon gepraat toe hulle my nader. Hulle dring toe daarop aan dat ek my foon vir hulle gee, maar ek het geweier en dit in my sak gesit. Dit is toe dat hulle my bril gryp en op die fiets wegjaag,” sê Ockhuis.

Die rowers het later hul vuurwapen en fiets agtergelos en te voet laat spaander. Volgens Ockhuis het die een nog sy skoolbroek aangehad.

Dit blyk nie die eerste keer te wees dat dié rowers met die fiets toeslaan nie. Volgens ‘n vrou op die toneel het hulle ook haar seun beroof.

Kapt. Daphé O’Reilly, polisiewoordvoerder, het bevestig dat twee sestienjariges inhegtenis geneem is.

You need to be Logged In to leave a comment.