Inwoners van Eikendal word amper daagliks beroof.
Inwoners van Eikendal word amper daagliks beroof.

‘n Man van Kraaifontein is verlede Donderdagoggend in Eikendal deur drie mans aangerand en beroof terwyl hy na die oplaaiplek vir sy vervoer werk toe gestap het.

Sy aanvallers, sê André Kruger, het hulself voorgedoen as werkers wat ook werk toe gaan. Hulle het werksoorpakke aangehad en rugsakke gedra.

“Dis `n nuwe truuk onder die skollies om niksvermoedende inwoners meer kwesbaar te maak,” sê Kruger, wat al twee keer beroof is.

Kruger het sy huis in Eerstelaan omstreeks 06:30 verlaat.

“Dis stil dié tyd van die oggend, behalwe vir `n paar mense wat vroeg in die oggend werk toe gaan. Die drie mans het van voor af verby my aan die ander kant van die pad gestap.

“Ek het nie veel daarvan gedink nie; die volgende oomblik toe lê ek op die grond met my gesig in die teerpad.”

Die mans het omgedraai en Kruger van agter af getrap en platgedruk.

Plat gedruk en geskop

Hy is verskeie kere in die sy geskop terwyl sy kop plat op die pad gedruk is, sodat hulle sy broeksakke kon deursoek. Hulle het sy foon uit sy broeksak gegryp en laat spat.

Hoë statistieke

Kruger, wat erge pyn verduur en vermoedelik gebreekte ribbes opgedoen en `n harde hou teen sy kop gekry het, het omgedraai huis toe en voor sy buurvrou se huis flou geraak.

Sy selfoon, sê hy, is nie van groot waarde nie, en hy het dus nie die saak by die polisie aangemeld nie.

“Ek kon ook nie die manne se gesigte sien nie, en sou nie die polisie kon help met beskrywings nie. Wat sou dit in elk geval help?” sê hy.

Volgens Kruger was hy net een van baie voetgangers wat onlangs in die gebied beroof is, waar weinig polisiepatrollies is.

“Dit is net nie meer veilig nie. So ‘n paar maande terug is drie mense voor my beroof en ons hoor gereeld van mense wat in die strate beroof word,” sê hy.

Die jongste misdaadstatistieke dui op die algemene voorkoms van die misdaad in die gebied.Tussen Januarie en Maart vanjaar is 40 gewone voorvalle van roof in Kraaifontein aangemeld en 202 met verswarende omstandighede – dus waar mense aangeval en beseer word.

TygerBurger het die Kraaifontein-polisie genader om kommentaar oor polisiepatrollies en misdaadbekamping in die gebied, maar het teen druktyd nog geen reaksie ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article