’n Gewapende roof, ’n jaagtog en Breyton Paulse.
Sekerheidspersoneel en buurtwaglede in Kuilsrivier het Dinsdagaand (16 Mei) ’n aand van groot drama – en ’n verskyning van ’n rugbyheld – ervaar.
Hennie Groenewald van District Bassett se reaksie-eenheid, het vertel hoe hulle deur lede van die Soneike-buurtwaggroep van ’n gewapende roof in Kuilsrivier in kennis gestel is.
Hulle het na die toneel gehaas waar ’n taxi-bestuurder vertel het hoe diewe ’n geweer op hom gerig het en sy foon en ring gesteel het.
Die verdagtes het in ’n witi Cit Golf weggejaag.
“Hulle het die gebied ondersoek en ’n sak gevind wat moontlik aan ’n verdagte behoort,” het Groenewald vertel. “Hulle het ook ’n beursie gevind wat bankkaarte en ’n ID-kaart bevat.”
Die taxi-bestuurder het die man op die ID-dokument as een van die verdagtes wat hom beroof het, uitgeken.
Intussen het hulle ’n oproep gekry van ’n buurtwaglid wat in ’n jaagtog met ’n verdagte Golf betrokke was.
Die voertuig is uiteindelik afgetrek en die taxi-bestuurder se items is gevind. Sy foon was glo onder die sitplek van die motor en een van die verdagtes het sy ring by hom gehad.
Volgens Groenewald is daar ook dwelms op een van die verdagtes gevind.
Vyf verdagtes is op die toneel gearresteer.
Tydens die arrestasie het sekerheidsdienste ’n onverwagse gas opgemerk – rugbykommentator en oud-Springbokspeler Breyton Paulse.
“Breyton self was nie (by die storie) betrokke nie. Hy het net uit nuuskierigheid op die toneel afgekom,” het Groenewald gesê.
Volgens Groenewald is sommige van die mense op die toneel groot
aanhangers van Paulse en het, nadat al die drama oor is, foto’s saam met hom laat neem.