Lorraine Fieldhouse van Brackenfell was een van die twee klante wat in Joey’s Vleisprodukte in Brackenfell was, toe die slaghuis op Dinsdag 18 Oktober omstreeks 17:15 deur vier gewapende rowers beroof is. Die slaghuis is ook op 16 Desember verlede jaar beroof.
“Ek werk by ’n koffiewinkel in Bellville en het sommer oppad huis toe gou daar ingegaan om drie pakke wors te koop. Toe ek instap sien ek een van die kassiere staan met haar hande in die lug en ek dink toe by myself wat gaan nou aan.
“Toe hoor ek net iemand sê agter my: ‘beweeg’ en toe ek omdraai kyk ek in die rewolwer se bek vas. Ek vra toe ewe beleefd, waarnatoe moet ek beweeg en toe druk hy my in die rigting van die instap-yskas waar die ander personeel en nog ’n klant reeds was,” vertel sy laggend.
Volgens haar was sy doodkalm en het nie eens die koue gevoel nie.
“My grootste begeerte was net om so gou moontlik uit dié demoniese omgewing te kom. Die rowers het ons almal se selfone gevra voor een van hulle ons in die yskas toegesluit het. Ek het nog so ewe gedink die selfoon kan ek vervang, maar nie my lewe nie. Agterna het ek besef hy kon eintlik my handsak ook gevat het, maar alles het toe darem goed afgeloop sonder enige lewensverlies,” vertel sy.
Nadat die polisie hulle uit die yskas bevry het, het sy vir een van
die personeel gevra om tog haar drie pakke wors te gee, want sy loop nie
sonder die wors by die slaghuis uit nie.
“Jy moet onthou, daardie
heerlike wors het my amper my lewe gekos. Jy moet definitief die wors
probeer, dan sal jy weet waarvan ek praat. Beslis jou lewe werd,” het sy
skertsend gesê.
- Die rowers is met ’n onbepaalde bedrag geld, twee selfone en ’n handsak weg,” het kaptein Erica Crous, woordvoerder van die Brackenfell-polisie, gesê.
Die verdagtes het in ’n blou Toyota Yaris weggejaag. Geen skote is gevuur nie en niemand is in die voorval beseer nie.
“Geen arrestasies is nog gemaak nie. Die Brackenfell-slagoffer-ondersteuningseenheid het hulp aan die drie getraumatiseerde personeellede en die een klant op die toneel verleen,” het Crous gesê.
Die Brackenfell-polisie ondersoek ’n saak van besigheidsroof.