Die Stad Kaapstad se direktoraat vir water en sanitasie wil inwoners bewus maak van die nadelige gevolge wat die misbruik van die rioolstelsel inhou.
Dreindeksels wat verwyder word en vreemde voorwerpe wat in die dreine beland, kan lei tot grootskaalse verstoppings en rioolwater wat oorstroom. Die Stad maan dat sulke misbruik nie net nadelig vir die omgewing is nie, maar ook ernstige veiligheids- en gesondheidsrisiko’s vir inwoners kan inhou.
Riool wat oorloop kan verrykende gevolge hê, soos die besoedeling van waterbronne, skade aan infrastruktuur en die belemmering van dienslewering.
Riool-oorstromings vereis dikwels vinnige optrede, wat beteken dat die Stad noodgedwonge hulpbronne wat elders benodig word, daarvoor moet afstaan.
Blokkasies
Tussen 1 Januarie en 30 April vanjaar het die Stad 592 diensversoeke (C3-aanmeldings) oor rioolprobleme in Wyk 19 (wat onder meer Kalkfontein en Wesbank insluit) geregistreer. Daarvan was 287 spesifiek in Wesbank.
Die gereelde blokkasies en oorvloei van riool wat gebiede soos Wesbank ervaar, kan volgens die Stad grotendeels verhoed word as die stelsel nie misbruik word nie.
Arendkopsirkel, Goodeve-slot, Flower- en Happiness-strate is van die gebiede in Wesbank waar gereeld blokkasies voorkom. Dit lyk of hierdie blokkasies verbind kan word met vandalisme en misbruik van die rioolstelsel aangesien dieselfde dreine dikwels kort nadat blokkasies verwyder is, weer verstop is.
Op Maandag 6 Mei het werkspanne van die Stad die mangat by Arendkop-sirkel vervang, asook blokkasies in die rioolnetwerk by Goodeve, Flower- en Happinesstrate verwyder.
As dreindeksels gesteel of beskadig word, gooi mense rommel in die oop dreine, wat dan in die rioolpype beland.
Verlede week is sand, klippe en allerhande vreemde voorwerpe in die rioolpyp by Happiness-en Flowerstrate gevind, wat daarin beland het omdat ’n dreindeksel in Kasbastraat verwyder is.
Plastiek, kookolie, lappe, koerante, babadoeke en sanitêre produkte is van die goed wat rioolpype laat verstop. Buiten onnodige herstelkostes kan dit gesondheidsrisiko’s vir inwoners inhou.
Zahid Badroodien, burgemeesterskomiteelid vir water en sanitasie, vra dat inwoners verantwoordelik sal optree aangesien dit ook in hul eie belang is om die rioolstelsel te help beskerm.
“Daar is basiese dinge wat inwoners kan doen om die moontlikheid van riool wat oorloop te verminder. Moet nooit dreindeksels verwyder nie, want dit verhoog die risiko van ongelukke en dat vreemde voorwerpe in die pype beland.”
As jy sien deksels word verwyder of dat ongewenste goed in dreine beland, meld dit aan sodat verdere skade aan infrastruktuur verhoed kan word.


