So dam die rioolwater agterin Sarel Hendricks se agterplaas op.


’n Man van Blue Downs sê hy kan nie eens meer by sy agterdeur uitgaan nie, so stink dit weens riool wat gedurig daar opdam.

Sarel Hendricks sê dis reeds meer as drie maande dat hulle met die probleem sukkel. “Al die dreine by my huis is verstop en ons kan dit nie meer hou nie. Ek het die probleem al 100 keer by die munisipaliteit aangemeld, maar elke keer kom suig hulle dit net op. Kort daarna is die riool en die onmenslike stank weer terug. Ek kan dit regtig nie meer hou nie en hoop daar is ’n vinnige en permanente oplossing,” sê Hendricks.

Die plaaslike raadslid, Frans Sauls, sê die probleem is by die Meltonrose-depot aangemeld.

“Ek kom gereeld in aanraking met die inwoner – telefonies en op WhatsApp – oor die probleem. Ek volg ook gereeld op met die hoof van die depot, Siyabulela Lutshetu, en die departement van water en sanitasie. Die terugvoer wat Lutshetu aan my gegee het is dat rioolpype ineengestort het. In hierdie stadium word daar gereeld tydelike verligting gebring, totdat kontrakteurs aangestel word wat die situasie permanent oplos. Dit is ongelukkig dat die ineenstorting net by Yorkstraat 51 is,” sê Sauls.

You need to be Logged In to leave a comment.