Vir talle huishoudings is dit soms moeilik om geldelik kop bo water te hou en word daar altyd ‘n oog gehou vir afslag hier of ‘n besparing daar op hul kruideniersware-inkopies.
‘n Plaaslike TikTok-inhoudskepper is egter sterk op pad na gewildheid vanweë haar ietwat unieke manier om mense, wat hulself juis in sulke omstandighede bevind, te help.
Olivia “Olive” Viglatzis van Richwood se video’s op sosialemedia-platforms versprei deesdae soos ‘n veldbrand waarin sy verduidelik hoe daar met bitter min geld, selfs so min as R30, ‘n heerlike maaltyd aanmekaar geslaan kan word, en waar om dit te kry.
Die begin
“Ek het nog altyd ‘n liefde en passie vir welsynwerk gehad. Toe die Covid-19 pandemie ons tref, het op besef daar is nood; mense het hul werk verloor en hulle kon net so ver gaan met hul geld. Ons het gedog dit gaan net vir 30 dae aanhou, maar dit het langer aangehou. Ons het in Richwood begin om pakkies bymekaar te maak, almal het gehelp in die gemeenskap en van daar het dit net begin groei,” verduidelik sy.
In daardie stadium was sy nog nie só aktief op sosiale media nie, sê sy.
“Ek het TikTok ontdek en daarop begin rondspeel,” sê sy.
Sy het aanvanklik verskeie video’s opgelaai van haarself waar sy besig is om te kook, en daar is agterna besluit om video’s te skep en op te laai waarin sy wys hoe mense met min geld iets aanmekaar kan sit om te eet. Dit was die bestaan van haar sogenaamde “budget meals”, beskryf sy.
“Jy kry verskillende goed wat jy kan koop wat die lewe vir mense wat dalk minderbevooreg is, maklik kan maak. Ek het besef ‘n mens kan goedkoper lewe met vars groente en ‘n klein bietjie vleis wat jy by ‘n slaghuis kan koop. En dit is waar die hele idee begin het,” sê sy.
Daarvandaan het dit net gegroei. Sy het video’s begin maak, dit opgelaai en die woord het versprei.
Video’s
Van haar heel eerste video’s verduidelik sy hoe ‘n maal vir slegs R30 aanmekaargeslaan kan word, of wat verbruikers vir net R30 by ‘n kleinhandel-supermark kan kry. Olive is nou al twee jaar met die projek besig.
Sy is ook in Augustus verlede jaar uitgedaag om vir R9 ‘n maaltyd vir twee mense aanmekaar te sit, maar het eerder besluit om teen R90 ‘n maaltyd vir 20 mense bymekaar te sit. Die maaltye is uitgedeel onder mense wat werk soek in die gebied.
Viglatzis sê hulle ontvang van tyd tot tyd ook skenkings van plaaslike mense en ondernemings.
Die video’s is op TikTok, Facebook en YouTube versprei.





