Die Hoërskool D.F. Malan se breiklub bestaan uit (agter van links) Carlu Pienaar (15), Alexander Nicholl (15), Divan du Preez en Theresa Coetzee, onderwyser. Voor sit Saskia Schrader (15), Mia Blaauw (15) en Liani Dippenaar (14).FOTO: Nielen de Klerk


Eens op ’n tyd was dit die laaste ding wat ’n hoërskoolleerder wou doen.

En toe skole nie meer breiklasse aanbied nie, het ’n hele generasie geleer om met verwarring en paniek na ’n breinaald te kyk.

Leerders aan die Hoërskool D.F. Malan is egter nou besig om hierdie hele idee op sy kop te draai.

Brei is deesdae so gewild; daar is dikwels kinders wat haar kom vra of hulle nie maar bietjie in die klas kan brei nie, sê Theresa Coetzee, onderwyser by die skool.

Als het begin toe Coetzee en haar kollega, Elmari Minnie, verlede jaar hul breigroepie op die been gebring het. Eers het hulle komberse gebrei om vir liefdadigheid te skenk.

Vanjaar het hulle weer die breinaalde opgetel toe Minnie gehoor het van ’n projek wat teddiebere aan kinder-verkragtingslagoffers voorsien wat in die hof moet verskyn.

Toe hulle die noodkreet aan die leerders op ’n saalbyeenkoms oordra, is hulle oorval met belangstelling. “Hulle het sommer hooked geraak,” sê Coetzee.

Coetzee en Minnie maak die leerders touwys en almal leer en werk teen hul eie pas.

Hulle het al 350 teddiebere gebrei van die beoogde 500 wat hulle wil klaarmaak. Oumas en ma’s spring ook in om te help.

’n Onverwagte verskynsel is al die seuns wat in die breiklub is.

“Dit maak ’n mens kalm,” laat een seun hoor. “Dis lekker sosiaal,” sê ’n ander.

In ’n stadium was daar 40 kinders in die klub, maar dit wissel baie afhangend van watter sportwedstryde of eksamens plaasvind.

Die skool maak gebruik van geskenkte wol en breipenne en sê hulle verwelkom altyd nog. Indien jy wil skenk, stuur wol na Theresa Coetzee by die skool.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article