Die jong “reus met ‘n klein hartjie” wat op die rugbyveld aan ‘n hartaanval dood is sou sy laaste vir mense om hom gee, sê sy ma.
TJ Potgieter (26) word môre, Dinsdag, 16 Januarie om 15:00, uit die NG kerk in Amanda Glen begrawe.
Hy en sy vriende het op die veld in die Kraaifontein-gebied gaan oefen, sê sy ma, Tania.
“(Sy vriend) het gesê hulle het nog nie eens begin opwarm nie. (TJ) het gesê hy is dors en gaan sit en toe vooroor geval.”
Die vriende het met hom na Cape Gate Mediclinic gejaag, waar hy dood verklaar is.
“Hy het (die dag van sy dood) niks makeer nie. Hy het nog heeldag gelag en gesels. Dit is net unreal,” sê Tania.
TJ het nog die 28-dag-dieet gedoen, onthou sy. “Hy was maar op dag drie. Sy laaste maaltyd was ’n ou aartappeltjie,” sê sy hartseer.
“Ek is al so opgehuil, maar ek het vrede in my hart.”
Tania, ’n onderwyser aan die Hoërskool Stellenberg, sê TJ sou altyd sy “laaste bietjie vir ’n pel gee. Hy hoef niks te hê nie, solank iemand anders iets het.”
TJ se pa, Johann, is ses jaar gelede ook aan ’n hartaanval oorlede. Hy en TJ was saam in die motor waarin hulle uit Pretoria teruggekeer het.
Johann het bestuur en sowat 40 km voor Laingsburg skielik siek geword. TJ moes die situasie oorneem en sy pa probeer help.
Dit is sedertdien ’n moeilike tyd vir die hele gesin.
TJ het egter ook kort daarna met sy hart gesukkel.
Hy het twee jaar gelede, op 24, sy eerste hartaanval gekry. “Hy het net die aand sleg gevoel en hospitaal toe gery.”
Hy het ’n stent gekry en het pille vir cholesterol begin drink.
Hy sou juis in die volgende paar weke weer ’n kardioloog besoek.
TJ, wat by sy ma in Langeberg Heights gebly het, het op seiljagte gewerk en sou later vanjaar weer in Malta gaan werk.
Hy was voorheen ’n blink rugbyspeler en het vir die Blou Bulle se o.19- en o.21-rugbyspanne uitgedraf. Hy het ook vir ’n klub in Frankryk gespeel voordat ’n knie-besering hom gekelder het.
“Hy het ’n goeie, vol lewe gehad. Hy was sportmal. Die buitelewe was sy lewe en daar’t hy gesterf. Hy het gesterf op die plek wat vir hom die lekkerste was,” sê Tania.
Boland Landbou, waar TJ op skool was, het sy medelye op Facebook uitgespreek.
“Ons harte gaan in liefde uit na die Potgieter-gesin, -familie en sy klasmaats in hierdie tyd. Mag God vir julle vertroosting bring en omvou met sy liefde.”





