Waar daar ’n klankie trek, is daar moontlik grootskaalse
onwettige bedrywighede.

Inwoners van Blommendal in Bellville het hierdie les op die
harde manier geleer toe polisie gister (Maandag) by ’n huis in die omgewing op
duisende rande se perlemoen beslag gelê het.

Volgens lt. kol. Fienie Nimb van die
Bellville-polisiekantoor het gemeenskapslede oor ’n ondraaglike reuk by ’n
spesifieke huis gekla.

Polisielede is na die woning, maar kon nie toegang tot die
perseel kry nie.

“Hulle spring toe oor die muur en sien deur die oop
skuifdeur dat daar perlemoen op droograkke lê,” vertel sy.

Drie mans wat in die huis was het te voet gevlug. Een het
oor die muur gespring en sy been gebreek.

“Hy is net daar gearresteer,” vertel Nimb.

Polisielede het een van die ander verdagtes in die
woongebied vasgetrek, terwyl die ander
verdagte weggekom het.

Die polisie het beslag gelê op 954 stukke gedroogte
perlemoen , 57 droograkke, gassillinders en ander toerusting wat gebruik was om
die perlemoen te verpak en te droog. Die markwaarde is nog onbekend, maar word
op duisende rande geskat.

Sers. Juanita Smit, sers Trevor Doubelle, konst. Mario
McBride, konst. Ettiene Ackerman, konst. Elroy van Zyl en sers. Jeremiah
Johnson was almal betrokke.

Die twee verdagtes sal Woensdag in die Bellville-landdroshof
verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.