’n Gesin van Durbanville Hills ly nog aan skok nadat ’n motor gisteroggend (Sondag 6 November) vroeg vanuit Renbaanweg deur die betonmuur aan die agterkant van hul huis gebars het.
Dit is die soveelste voorval van dié aard by huise in Suikerbosstraat, Durbanville Hills. Bure het glo die slag van die botsing tot aan die oorkant van Suikerbosstraat gehoor.
Die 28-jarige motorbestuurder van Bellville het van die ongelukstoneel verdwyn nog voor die polisie of ’n ambulans daar aangekom het. Die silwerkleurige Audi A4 is onder groot belangstelling van verbygaande motoriste later die dag weggesleep. Die bestuurder se identiteit is later vasgestel nadat dokumente van die maatskappymotor op die ongelukstoneel gevind is.
Volgens Jan-Carel de Ridder (41) het hy en sy vrou omstreeks 03:30 wakker geskrik van die eerste slag – toe die motor die lamppaal op die hoek van Tindale- en Renbaanweg tref – en toe die tweede slag toe die motor deur hul betonmuur bars.
“Ek het by die venster uitgekyk en ’n motor op sy dak in die struike in ons tuin sien lê. Die een flikkerlig het nog aan en af geflikker. Ek kan nie vir jou verduidelik wat deur ’n mens se kop gaan as so iets gebeur nie,” het hy gesê.
Dit is die tweede keer in ses jaar dat ’n motorbestuurder in Renbaanweg beheer oor sy voertuig verloor en dit deur hul betonmuur bars.
Hy het die polisie se noodnommer gebel en kort-kort deur die gordyn geloer, terwyl sy vrou, Eulize, ’n ambulans en hul sekerheidsmaatskappy ontbied het.
Dis toe hy deur die gordyn geloer het, dat hy ’n wit motor, vermoedelik ’n VW Citi Golf, in die pad sien stilhou het. De Ridder vermoed dis toe dat die bestuurder deur sy vriende opgelaai is, want toe hulle kort daarna saam met die polisie en beamptes van sekerheidsmaatskappye die toneel fynkam, was daar geen spoor van die bestuurder nie.
“Die ergste was dat ons toe met ’n flits in die struike moes soek na die motorbestuurder, en nie geweet het waarop ons gaan afkom nie,” het Eulize vertel.
“Dink net wat kon gebeur het as dit gedurende die dag was, soos die vorige voorval, terwyl ons kinders in die tuin gespeel het,” het sy gesê.
Jan-Carel het gesê ’n wiel kon in die slag afgespring en geslinger het deur die kamervenster waar hul jong kinders geslaap het.
“ ’n Mens kan net spekuleer dat die bestuurder onder die invloed van drank was, en daarom die ongelukstoneel so haastig verlaat het.”
Hy wil hê dat die Stad Kaapstad betonversperrings aan die kant van die huise in Renbaanweg moet oprig.