By Agri-Expo se jongste inisiatief, die Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskap, is (van links) Carmen Niehaus (koskenner en -skrywer), Peter Duncan (hoofsjef by La Petite Colombe), Susina Jooste (hoofbeoordelaar), Breyton Milford, (hoofbestuurder van Agri-Expo en organiseerder van die kampioenskap) en Arina du Plessis (kosredakteur by Landbouweekblad). Foto: A Gorman Photography

Tannie Kowie se ingelegde perskes by die kerkbasaar het ‘n nuwe verhoog gekry in die eerste Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskap, wat ‘n nuwe era vir plaaslike preserveerprodukte inlui.

Met 456 inskrywings van 66 vervaardigers – meer as dubbel as verwag – is dit duidelik dat die tyd ryp is vir nasionale erkenning van gehalte- gepreserveerde produkte.

Die beoordelaarspaneel van 38 kenners – bestaande uit onder meer bekende sjefs, gesoute kosskrywers, klein- en groothandelspesialiste, kundiges uit die gasvryheidsbedryf, sjefstudente, afgevaardigdes van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland en selfs enkele vervaardigers self, het produkte verlede Woensdag (23 Julie) blind geproe op Eensgezind buite Durbanville.

“Hierdie preserveerkampioenskap is geskep om topgehalte produkte te erken, bewustheid oor preservering te verhoog, bemarkingsgeleenthede vir entrepreneurs te bied en die kuns van voedselbewaring te vier,” sê die bekende koskenner en opleidingspesialis Susina Jooste, hoofbeoordelaar.

“Dit is ook ’n platform vir kennisdeling, volhoubaarheid, ekonomiese groei, die verhoging van standaarde en die vermindering van voedselvermorsing,” sê sy.

Die kampioenskap, aangebied deur Agri-Expo, fokus op gepreserveerde vrugte- en groenteprodukte in meer as 100 klasse, van konfyt, marmelade, blatjang en piekels tot pesto’s en ander innoverende skeppings. Slegs produkte wat reeds in winkels, padstalle, aanlyn of by markte vir die publiek beskikbaar is, is aanvaar.

Impak op gehalte

Jooste sê innovasie is een van die beoordelingskriteria en dat dit bemoedigend is om te sien hoe outentiekheid en kreatiwiteit mekaar ontmoet.

“Ek is oortuig daarvan dat hierdie kompetisie ‘n impak op gehalte in die mark gaan hê en dat verbruikersvertroue in preserveerprodukte sal toeneem. Ons sien uit na die reaksie van verbruikers op produkte wat met ons toekennings vir uitsonderlike gehalte op die winkelrakke gaan spog.”

Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo en organiseerder van die kampioenskap, sê die groot belangstelling toon dat daar ’n duidelike behoefte in die bedryf vir hierdie soort platform bestaan.

“Ons het hierdie kompetisie geskep vir agri-prosesseerders in die vrugte- en groentebedryf. Die groot aantal inskrywings wys dat daar ’n vraag is na erkenning vir preserveerprodukte – een wat dit sáám met kaas en wyn op die tafel plaas,” sê Milford.

“Ons is dankbaar vir ondersteuning uit die bedryf, met Clemengold en Hollard wat as goue vennote betrokke is,” sê Milford. “Sonder hul ondersteuning sou dié mylpaal nie moontlik gewees het nie.”

Produkte geskenk

Al die produkte is na afloop van die beoordeling aan welsynorganisasies geskenk.

Die wenners word op Dinsdag 19 Augustus by Lanzerac in Stellenbosch aangekondig.

* Besoek www.sapreservechamps.co.za of stuur e-pos aan charlotte@agriexpo.co.za met navrae. Volg @AgriExpo1 op Facebook, X, Instagram en LinkedIn en gebruik #AgriExpo en #SAPreserveChamps om saam te gesels.

Die beoordelaarspaneel van die eerste Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskap het bestaan uit 38 kenners. Foto: A Gorman Photography
Die koskenners moes 456 inskrywings van 66 vervaardigers in meer as 100 klasse beoordeel – van konfyt, marmelade, blatjang en piekels tot pesto’s en ander innoverende skeppings. Foto: A Gorman Photography

You need to be Logged In to leave a comment.